Nuus 16:00
BULLETIN 18 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Siya Kolisi vra mans om die geslagsgeweld-krisis aan te pak
# Verbruikers bestee steeds versigtig ondanks ‘n herstel in vertroue
# En rugby: Die jong ster Luan Giliomee verlaat die Haaie en sluit aan by die Bulle
# Die Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, vra Suid-Afrikaanse mans om verantwoordelikheid te aanvaar en dringend op te tree teen geslagsgeweld en vrouemoord na die ontdekking van nege vroue se liggame in Ekurhuleni, Gauteng. Hy het gepraat in Australië, waar die Springbokke voorberei vir volgende naweek se toets teen die Wallabies. Kolisi sê Suid-Afrikaners moet saamstaan teen die onding. Hy vra sportmanne en ander om hul bekendheid te gebruik om die krisis te oorkom:
Die Personeelvereniging vir die Motorbedryf sê intussen die Verenigde Nasies se kommer oor hierdie moorde beklemtoon die versuim om vroue teen geslagsgeweld en vrouemoord te beskerm. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê daar is planne om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp, maar dit word nie voldoende befonds of doeltreffend uitgevoer nie. Sy vra strenger wetstoepassing, beter ondersoeke en ‘n doeltreffende regstelsel om vroue te beskerm en oortreders te vervolg:
# Die kwartaallikse Verbruikersvertroue-aanwyser wat gesamentlik deur FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing gepubliseer word, het tot minus-13 verbeter in die derde kwartaal vanaf Julie tot September. Dis hoër as die minus-19 van die tweede kwartaal tussen April en Junie. FNB se senior ekonoom, Sphamandla Mkhwanazi, sê die verbetering weerspieël meer vertroue in huishoudelike finansies en die ekonomie. Verbruikers is egter nog versigtig vir groot aankope soos motors, meubels en huishoudelike toestelle. Mkhwanazi sê hoër brandstofpryse en leenkoste sal waarskynlik aanhou om huishoudings se bestedingsbesluite te beïnvloed.
# Rugby: Die opwindende jong veelsydige agterspeler Luan Giliomee gaan na verwagting volgende maand na Pretoria verhuis nadat hy ‘n kontrak met die Bulle gesluit het. Hy is tans nog onder kontrak by die Haaie. Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê dit beteken die 19-jarige Suid-Afrikaanse Onder-20-ster, wat heelagter en losskakel kan speel, sal nie beskikbaar wees vir hulle eerste Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd volgende Saterdag in Italië teen Zebre nie. Hy het ook bevestig die Bulle probeer die Springbokke Malcolm Marx en Kwagga Smith na Pretoria lok.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-962-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-365-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Studie deur die marknavorsingsmaatskappy Ipsos het aan die lig gebring dat vervoerkoste miljoene mense van geleenthede uitsluit. Ipsos se landbestuurder, Natalie Otte, sê ongeveer 6,9 miljoen mense het werk of onderrig misgeloop omdat hulle nie vervoer kon bekostig nie. Sy waarsku in ’n onderhoud met die SABC dat brandstofpryse die probleem kan vererger, tesame met druk van voedsel- en behuisingskoste:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….