Nuus 16:00
BULLETIN 29 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cele verwelkom die hofverskyning van die AKA-moordverdagtes
# ‘n Voormalige Bosasa-bestuurder is geskik verklaar om tereg te staan in sy korrupsiesaak
# En, krieket: Die voormalige Windies-topspeler Chris Gayle vier 100 dae voor die T20-Wêreldbekertoernooi begin
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, het die uitstel van die borgtogverhoor en die identiteite wat onthul is van die verdagtes in die moorde op Kiernan ‘AKA‘ Forbes en Tebello ‘Tibz’ Motsoane, verwelkom. Cele het gepraat ná die verrigtinge in die Landdroshof in Durban en ondersoekers geprys vir die arrestasies. Hy beskou die moord op die kletsrymer as ‘n aansienlike verlies vir die land en het die nasie se hartseer uitgespreek ná die moorde in Februarie verlede jaar:
# Die korrupsiebeskuldigde voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi, is geskik om tereg te staan, nadat hy ‘n psigiatriese evaluasie in die Weskoppies-hospitaal in Gauteng ondergaan het. Psigiaters het egter aanbeveel die Hooggeregshof in Pretoria moet korter sessies of meer gereelde pouses oorweeg weens Agrizzi se pyn en uitputting. Hy het ‘n hartaanval gekry kort ná sy inhegtenisneming in Oktober 2020. Een van die aanklagte teen Agrizzi is oor vier tenders ter waarde van 1,8-miljard-rand wat hy op ‘n korrupte wyse van Korrektiewe Dienste bekom het. Die saak is tot April uitgestel.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet moedig alle burgers, veral jongmense, aan om op 29 Mei hulle reg om te stem, uit te oefen. Ntshavheni het die media ingelig oor die uitkoms van die kabinetsvergadering en die historiese belangrikheid uitgelig van die reg om te stem, wat in 1994 verkry is na jare se opoffering vir vryheid. Ntshavheni sê vanjaar se verkiesing val saam met die viering van 30 jaar van vryheid, wat ‘n geleentheid gee om na te dink oor die suksesse, en om uitdagings aan te spreek:
# Krieket: Die voormalige Windies-topspeler, Chris Gayle, hoop vanjaar se T20-Wêreldbekertoernooi in sy tuisland en Amerika sal die spel help om ‘n deurbraak te maak in die winsgewende Amerikaanse sportmark. Dit sal die eerste groot internasionale kriekettoernooi in Amerika wees, en ‘n uitverkoopte skare word verwag veral wanneer die aartsvyande, Indië en Pakistan, op die negende Junie in Long Island, New York, teen mekaar te staan kom. Gayle, wat een-duisend-899 lopies in 79 T20-wedstryde aangeteken het, het 100-dae tot die begin van die toernooi in Barbados gevier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-668-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het van 6 tot 8 Maart die eerste vragmotorbestuurder veiligheid en welstand-simposium in Boksburg bekendgestel. Die tema is ‘Your wellness is our concern‘, en die geleentheid poog om landwyd die veiligheid en welstand van vragmotorbestuurders te verbeter. Die departement se vragspesialis, Mihlali Gqada, beklemtoon die projek se fokus op tasbare verandering, verbetering van veiligheidprotokolle en bestuurders se algemene gesondheid. Die Simposium, in samewerking met die SaferStops Association, sal ‘n jaarlikse bedryfsgeleentheid word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….