Nuus 16:00
BULLETIN 17 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende Gautengse kommissaris vra waaksaamheid terwyl die polisie die Ekurhuleni-moorde ondersoek
# Australië verskerp sy visumreëls om migrasie te beperk
# En motorsport: Rosberg waarsku Antonelli oor die grootste bedreiging in ‘n F1-titel-jaagtog
# Die waarnemende Gautengse polisiekommissaris, Fred Kekana, versoek die publiek om die polisie toe te laat om hul ondersoek uit te voer ná die ontdekking van ‘n negende vrou se liggaam in Ekurhuleni. Sy is sowat 30-jaar-oud en is met steekwonde en gedeeltelik geklee aangetref. Sy is nog nie uitgeken nie. Forensiese ondersoeke word gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal. Kekana waarsku teen die verspreiding van foto’s of waninligting:
# Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope was in Julie 3,4-persent hoër as dieselfde maand verlede jaar. Die groei is hoofsaaklik aangevuur deur algemene handelaars, ander kleinhandelaars en winkels wat klere, skoeisel en voedselprodukte verkoop. Verkope het ook met 2,5-persent toegeneem vergeleke met Junie. Raquel Floris van Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het oor die drie maande tot einde Julie met 2,2-persent gegroei vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die Inligtingsreguleerder ondersoek ‘n data-diefstal by die voertuig-opsporingsmaatskappy Cartrack ná ‘n kuberaanval verlede maand. Cartrack sê toegang is verkry tot sy kliënte-databasis, wat kontakbesonderhede, bankinligting en voertuigdata bevat. ‘n Kuberkrakergroep het aanspreeklikheid aanvaar en beweer dat 500 giga-grepe data gesteel is. Woordvoerder Hangi Mbedzi sê Cartrack het die Inligtingsreguleerder in kennis gestel ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, en die ondersoek na die skending duur voort.
Nuus uit die buiteland:
# Australië verskerp sy visumreëls vir buitelandse studente en rugsakreisigers in ‘n poging om migrasie te verminder. Buitelandse studente sal oor die algemeen nie meer hul lewensmaats of kinders mag saambring nie. Nuwe prosedures sal ook bepaal wie kwalifiseer vir sekere verlengings van werk- en vakansie-visums. Besoekers met toeristevisums sal nie meer binne Australië kan oorskakel na ander visum-kategorieë nie. Die regering wil teen 2028 jaarlikse netto migrasie verminder vanaf die huidige 300-duisend tot 225-duisend. Die minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, ontken die veranderings is polities gemotiveer.
# Motorsport: 2016 se Formule Een-wêreldkampioen, Nico Rosberg, waarsku die sielkundige druk van ‘n eerste kampioenskap kan Kimi Antonelli van Mercedes uiteindelik inhaal. Die 20-jarige Italianer is 81 punte voor sy Britse spanmaat, George Russell, boaan die bestuurders-kampioenskap met nege wedrenne oor. Die Duits-Finse Rosberg het gesê Antonelli moet hom nie oor die ander jaers bekommer nie, maar eerder fokus op die regte gemoedstoestand vir die oorblywende wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-27-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-372-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….