Nuus 16:00
BULLETIN 16 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 136-duisend kandidate gaan deelneem aan die plaaslike regeringsverkiesing
# ‘n Oos-Kaapse boer is skuldig bevind aan verkragting en mensehandel
# En die EU baan die weg om Kanada sy eerste geassosieerde lid te maak
# Die Verkiesingskommissie het 136-duisend-790 kandidate goedgekeur om op 4 November aan die plaaslike regeringsverkiesing deel te neem. Groot metro’s soos Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni sal stembriewe met twee kolomme gebruik weens die groot aantal politieke partye. Die kommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het op ‘n nuuskonferensie gesê aansoeke om spesiale stemme sal 21 September open en politieke partye sal op 23 September die verkiesingsgedragskode onderteken:
# ‘n Oos-Kaapse boer, Louis Lategan, is in die Hooggeregshof in Makhanda skuldig bevind aan verkragting en mensehandel. Hy is daarvan aangekla dat hy ses jong vroue na sy afgeleë plaas gelok het met aanbiedinge van werk as au pair, waarna hy hulle seksueel aangerand het. Die hof het sy beweringe verwerp dat die seksuele ontmoetings met wedersydse instemming plaasgevind het en dat sy eks-vrou saam met die klaers teen hom saamgesweer het. Lategan het tereg gestaan op 22 aanklagte, insluitend ses van mensehandel en agt van verkragting.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke vra intussen dringende optrede om vroue te beskerm na die ontdekking van agt vermoorde vroue aan die Gautengse Oos-rand oor ‘n tydperk van twee maande. Hoofsekretaris, eerwaarde Mzwandile Molo, het aan die SABC gesê die sterfgevalle in Kemptonpark, Olifantsfontein en Springs het vrees en woede ontketen. Hy dring aan op spoedige ondersoeke, vervolgings en die instelling van die afkondiging van geslagsgeweld en vrouemoord as ‘n nasionale ramp:
Nuus uit die buiteland:
# Die EU baan die weg om Kanada sy eerste geassosieerde lid te maak. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê dié status is nie tans in die EU se verdrae nie en beteken nie volle lidmaatskap nie. Sy meen so ‘n reëling kan samewerking tussen die EU en Kanada op gebiede soos handel, verdediging, tegnologie, energie en kritieke minerale verder versterk. Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, beywer hom reeds vir nouer bande met Europa namate betrekkinge met Amerika moeiliker raak. Carney spreek later vandag die Europese Parlement toe.
Nou sportnuus:
# Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê dis ‘n geskiedkundige geleentheid om die Wêreldkampioenskap in 2029 die eerste keer in Afrika aan te bied nadat Nairobi ‘n oortuigende, emosionele bod ingedien het. Kenia is die tweede suksesvolste land in die geskiedenis van die kampioenskap en het verlede jaar in Tokio tweede geëindig met elf medaljes, waaronder sewe goues. Coe sê die bod het sterk bedryfs-beplanning en finansiële waarborge gekombineer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-54-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-340-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….