Nuus 16:00
BULLETIN 20 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ntshavheni sê die Internasionale Strafhof sleep sy voete ondanks die erns van die situasie in Palestina
# Kinderarbeid bly ‘n bekommernis vir die regering
# En, tennis: Geen uittreeplanne terwyl Djokovic aanhou wen
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Internasionale Strafhof se kantoor gaan voort om sy voete te sleep ondanks die erns van die situasie in Palestina sedert 2021. Ntshavheni het ‘n nuuskonferensie gehou oor die uitkomste van Donderdag se kabinetsvergadering. Sy sê noudat ander staatspartye ook hul stemme bygevoeg het vir ‘n einde aan Israel se straffeloosheid en met die aansienlike vlakke van beskikbare bewyse, verwag die kabinet dat internasionale lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik sal word teen die tyd dat die konferensie van partye middel Desember in New York vergader:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, sê armoede en beperkte toegang tot onderwys in landelike boerderygemeenskappe, genoodsaak sommige kinders om te werk. Daar is ʼn beduidende getal minderjariges wat werk, veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Nxesi het na hierdie kwelpunt verwys tydens die bekendstelling van die Voorkoming en Uitskakeling van Kinderarbeid in Sandton, en benadruk daar is ‘n behoefte om hierdie uitdagings aan te pak en kinderarbeid uit te skakel:
# Die tiende verdagte wat verbind word aan die moord en poging tot moord op personeel van die Fort Hare Universiteit, wat vandag in die Landdroshof in Alice in Dikeni, Oos-Kaap, sal verskyn, is geïdentifiseer. Volgens eNCA het die universiteit in ‘n verklaring bevestig die verdagte is die direkteur van Ondersoek- en Bevestigings-dienste, Isaac Plaatjies. Hy is Vrydag in hegtenis geneem en die universiteit verwag die borgtogaansoek sal oor ‘n week aangehoor word. Intussen oefen die staat druk uit om die saak na die Hooggeregshof toe oor te plaas.
# Minstens 80-duisend mense is regoor Kenia ontwortel ná die swaar reënval wat oorstromings en grondverskuiwings veroorsaak het. Kenia se adjunkpresident, Rigathi Gachagua, sê nooddienste is ontplooi om hulp te bied en gesinne wat gestrand is, te red. Verder is daar ‘n multi-agentskap-span onder leiding van die Keniaanse-kuswag wat poog om liggame terug te vind. Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om die vloedwater te vermy en sê huise in laagliggende gebiede moet ontruim word. Die langdurige reënval sal na verwagting tot in die eerste kwartaal van volgende jaar voortduur.
# Tennis: Die wêreld nommer een, Novak Djokovic, beskou die Spanjaard Carlos Alcaraz, die Italianer Jannik Sinner en Holger Rune van Denemarke as die volgende Groot Drie van die spel. Die 36-jarige Serwiër het Sinner gister verslaan om die ATP-jaareindtoernooi vir ʼn rekord sewende keer te wen. Volgens Djokovic wil hy aanhou speel terwyl hy nog dié trio kan klop:
# En laastens die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-120-dollar-8-sent. Die prys van goud is een-duisend-971-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….