Nuus 16:00
BULLETIN 20 FRebruarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika vra aanspreeklikheid in Israel se 57-jarige besetting van Palestina
# Werkloosheidskoers het toegeneem in die vierde kwartaal van 2023
# Rugby: Veteraan-Blitsbok Specman wil sy kant bring in Kanada
# Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, Vusimuzi Madonsela, het kommer uitgespreek oor Israel se voortdurende besetting van Palestina aan die Wesoewer, Oos-Jerusalem en die Gazastrook, wat reeds meer as 50-jaar duur. Die Internasionale Geregshof in Den Haag hoor Suid-Afrika, en verskeie ander lande, se betoë aan teen Israel se besetting. Madonsela het die hof aangemoedig om aandag te skenk aan die dringende kwessie rondom Israel se langdurige straffeloosheid vir wydverspreide menseregteskendings:
# Statistiek SA het aangekondig 22-duisend minder mense het in die vierde kwartaal van verlede jaar werk gehad. Die uitslae van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname dui aan die amptelike werkloosheidskoers het van 31,9-persent in die derde kwartaal tot 32,1-persent toegeneem. Indiensneming in die formele sektor het afgeneem, terwyl indiensneming in die informele sektor toegeneem het. Nywerhede wat werk verloor het, sluit in gemeenskaps- en maatskaplike dienste, konstruksie, landbou, handel en vervaardiging. Werksverliese is aangeteken in die Oos-Kaap, Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap. Die grootste toename in indiensneming is in KwaZulu-Natal aangeteken, gevolg deur Mpumalanga en die Wes-Kaap.
# Die Posbank gaan einde volgende maand kontantuitbetalingspunte vir maatskaplike toelaes by die Poskantoor staak. Hy faseer punte uit wat diens verskaf aan minder as 50 begunstigdes. Ontvangers kan nou onttrek via die Nasionale Betaalstelselkanale soos kitsbanke en kleinhandelaars soos Shoprite. Die Poskantoor sal steeds kontantlose dienste aanbied. Die Posbank se woordvoerder, Bongani Diako, lê klem op regstreekse kontak met begunstigdes, om hulle in te lig oor die verandering, by te staan met oorgangsreëlings en raad te gee oor alternatiewe onttrekkingspunte.
# Rugby: Die veteraan-Blitsbok, Rosko Specman, is terug in die sewestoernooi in Vancouver nadat hy in 2016 die eerste keer daar gespeel het. Die Suid-Afrikaners het in Kanada aangekom en berei hulle voor vir die naweek se groepswedstryde teen Nieu-Seeland, Groot-Brittanje en Ierland. Specman het vanjaar sy terugkeer tot sewes gemaak nadat hy sedert 2020 15-man-rugby gespeel het. Die 34-jarige wil sy kant bring in Kanada:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-308-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-82-sent per vat.
# En, laastens: Die Johannesburgse Rolprentfees sê die bekroonde akteur, musikant en filantroop Malik Yoba sal ‘n tikkie Hollywood-glans na die geleentheid bring met sy teenwoordigheid. Die fees, wat van 27 Februarie tot drie Maart plaasvind, sal ‘n uiteenlopende reeks rolprente van regoor die wêreld aanbied, en beloof om ‘n onvergeetlike rolprentervaring vir besoekers te wees. Yoba is uiters toegewyd om jong talent in die bedryf te koester en te bemagtig. Om sy verbintenis te versterk om jongmense te bou, sal hy ‘n meesterklas aanbied wat sal fokus op jeug-ontwikkeling.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….