Nuus 16:00
BULLETIN 8 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verskerp burgemeesterskandidate se integriteitsondersoeke
# Rugby: Erasmus verwag nog ‘n rillerstryd teen die All Blacks
# En die Presidensie vra benoemings vir Nasionale Ordes
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê burgemeesterskandidate is onderwerp aan integriteitsondersoeke rakende bedrog, strafregtelike oortredings en onetiese gedrag. Hy sê kandidate met misdaadrekords, ongunstige bevindings of dissiplinêre aangeleenthede is van die lys verwyder. Mbalula sê persone op wie die ANC se opsystaan-reël van toepassing is, word uitgesluit. Hy sê die proses pas die party se integriteitsreëls vir kandidate toe, soos goedgekeur deur die Nasionale Uitvoerende Komitee:
# Die besturende direkteur van die BBF Safety Group, Ndlela Mazibuko, sê Afrika se mineraalrykdom bied beduidende geleenthede vir ekonomiese ontwikkeling, waardetoevoeging, tegnologie en vernuwing. Hy het op die Electra-mynbou-Afrika-uitstalling in Johannesburg aan Mining Weekly gesê die vasteland se bevolking van 1,4-miljard skep ‘n sterk vraag na goedere en dienste. Mazibuko sê mense bly die kern van die mynbedryf, en daarom is veiligheid in die werkplek uiters belangrik:
# Die busonderneming Putco gaan 349 kontrakwerkers voltyds aanstel. Putco sê dit geld vir busbestuurders en kondukteurs, skoonmakers, werkswinkelpersoneel en bestuurders wat busse op depots verskuif. Die werknemers sal dus kwalifiseer vir voordele, insluitend pensioen- of voorsorgfondse en gesondheidsorg. Die vakbond Numsa verwelkom die besluit en sê dis ‘n oorwinning teen die toenemende gebruik van tydelike arbeid. Putco sê die besluit is onafhanklik geneem en was nie as gevolg van vakbond-ingryping nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag ‘n reuse-aanslag van die All Blacks in Saterdag se vierde en laaste toets in Baltimore. Hy het twee veranderings gemaak aan sy opdrafspan – Damian Willemse vervang die beseerde Cheslin Kolbe op heelagter, en Morné van den Berg begin op skrumskakel, met Cobus Reinach op die bank. Erasmus glo die Bokke moet hulle aanval verder verskerp om te wen en die reeks 3-1 te beklink:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-269-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die Presidensie nooi Suid-Afrikaners uit om mense wat buitengewone bydraes tot hul gemeenskappe of die nasie gelewer het, vir Nasionale Ordes te benoem. Dit is die land se hoogste eerbewyse, wat uitnemendheid op gebiede soos wetenskap, kultuur, sport, gemeenskapsdiens en dapperheid erken. Die kanselier van Nasionale Ordes, Phindile Baleni, moedig burgers van alle agtergronde aan om verdienstelike mense te benoem. Die ordes word deur die president toegeken om uitstaande prestasie, nasiebou, diens en bydraes tot Suid-Afrika te erken. Benoemings sluit op Woensdag 30 September.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….