Nuus 16:00
BULLETIN 4 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dali Mpofu sê die Phala Phala-geld is die kern van die saak
# Rampbestuurspanne is in KwaZulu-Natal ontplooi weens swaar donderstorms
# En die Hugenote-tonnel is vir alle verkeer gesluit weens sterk wind
# Die MK-party se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê die buitelandse valuta bly die kern van die saak teen president Cyril Ramaphosa. Mpofu het in ‘n vurige woordewisseling met regter Mark Sher in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer die saak het vrae laat ontstaan oor waar die geld vandaan kom, hoe dit hanteer is en die beweerde optrede rondom die diefstal
# Rampbestuurspanne in KwaZulu-Natal is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag terwyl swaar donderstorms in die suidelike dele van die provinsie verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 4-waarskuwing uitgereik vir swaar reën, erge weerlig en skadelike wind. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Siboniso Mngadi, vra inwoners in laagliggende gebiede om waaksaam te bly. Hy raai motoriste aan om onnodige reise te vermy en voorsorgmaatreëls te tref:
In die Wes-Kaap is die Hugenote-tonnel op die N1 tussen die Paarl en Worcester tydelik gesluit vir alle voertuie weens sterk dwarswinde op die akwaduk onderweg na die tonnel. Die Drakenstein-munisipaliteit sê alle verkeer word herlei na die R101 en Du Toitskloofpas. Die sluiting sal van krag bly tot weerstoestande verbeter. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te beplan en versigtig te bestuur.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het advertensie-naspoorders op selfone en rekenaars afgeskakel nadat dit bekend geword het liggingsdata wat advertensie-ondernemings ingesamel het, word gebruik om Amerikaanse magte in die Midde-Ooste op te spoor. Reuters berig die Lugmag het die naspoorders reeds twee maande gelede afgeskakel op selfone en rekenaars, terwyl die Spesiale Operasionele Bevel dit onlangs op Windows-toestelle afgeskakel het. Die Leër sê advertensie-identifiseerders is ook op sekere toestelle versper. Dit volg op vrese dat die data wat deur databemiddelaars verkoop word, die ligging van militêre personeellede kan blootlê.
# Rugby: Die veteraan-Australiese stut James Slipper mik volgende jaar na ‘n vyfde Wêreldbekertoernooi op tuisbodem. Hy het hom pas tot ‘n 17de Superrugby-seisoen verbind deur sy kontrak met die Brumbies te verleng. Sy 154 toetse is die tweede meeste naas die Wallieser Alun Wyn Jones se 171, maar sê hy voel nog goed en geniet steeds die spel. Slipper sal 38 wees wanneer die Wêreldbekertoernooi in Oktober volgende jaar begin. Hy het in Julie sy uittrede omgekeer en sê hy is nie noodwendig klaar met toetsrugby nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-268-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-471-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….