Nuus 16:00
BULLETIN 22 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kopanang-beweging vra dringende regeringsoptrede om ontheemde migrante te beskerm
# Die Johannesburgse polisie ondersoek inbrake by die huise van ‘n polisie-generaal en ‘n senior advokaat
# En sokker: Messi staan op die punt om ‘n Wêreldbeker-doelerekord te oortref
# Kopanang Africa Against Xenophobia veroordeel wat hy ‘n verslegtende humanitêre krisis noem waarin migrante, vlugtelinge en asielsoekers geraak is weens xenofobiese geweld. Mike Ndlovu van die organisasie sê honderde kwesbare mense, insluitend vroue en kinders, het tans geen voldoende skuiling en ondersteuning nie. Hy versoek die regering om beskerming, humanitêre hulp en veilige verblyf te bied, en beslissend op te tree teen diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle:
# Forum for South Africa is ernstig bekommerd oor die besluit van die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om president Cyril Ramaphosa se aansoek om ‘n dringende hofinterdik te aanvaar wat gemik is op die opskorting van die ampsklagkomitee se werk. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die sogenaamde neutrale houding is niks anders nie as ‘n mislukking van leierskap op ‘n kritieke oomblik vir verantwoordbaarheid in Suid-Afrika:
# Die Johannesburgse polisie het ‘n saak van huisbraak en diefstal geopen nadat inbrekers toegeslaan het op die huis van die polisie se geskorste afdelingskommissaris vir Voorsienings-kettingbestuur, Molefe Fani. Verskeie elektroniese toestelle is gesteeel, insluitend Fani se skootrekenaar. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ondersoeke duur voort. Fani is geskors nadat die Spesiale Ondersoekeenheid hom verbind het met beweerde onreëlmatighede in verkryging, verkwistende uitgawes en belangebotsings met betrekking tot regeringstenders ter waarde van miljoene rand.
Die Johannesburgse polisie ondersoek ook ‘n inbraak by senior advokaat Muzi Sikhakhane se huis in Bryanston. Indringers het na bewering in sy privaat kantoor ingebreek en rekenaars en skootrekenaars gesteel. Geen beserings is aangemeld nie. Dit is onduidelik of kliënte se sensitiewe regsdokumente en inligting geteiken is, en of dit ‘n roetine-inbraak was. Sikhakhane is bekend vir sy verteenwoordiging van verskeie hoëprofiel-figure, insluitend oudpresident Jacob Zuma, die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
# Sokker: Argentinië se kaptain, Lionel Messi, mik na ‘n Wêreldbeker-rekord in vandag se groepswedstryd teen Oostenryk in Dallas. Hy het die Duitser Miroslav Klose se rekord van 16 doele in Wêreldbeker-toernooie geëwenaar toe hy ‘n driekuns behaal het teen Algerië. Messi, wat Woensdag 39 word, hoop sy land kan die eerste sedert Brasilië in 1962 word om hulle titel suksesvol te verdedig. Argentinië is tans die voorloper in Groep J, gevolg deur Oostenryk, Jordanië en Algerië. Die afskop in Arlington, Dallas, is sewe-uur Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-847-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….