Nuus 16:00
BULLETIN 17 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tongaat Hulett se likwidasie is afgeweer danksy ‘n reddingsplan wat 250-duisend werksgeleenthede red
# Die Presidensie bevestig ontvangs van die DA se voorgestelde kabinetsveranderings
# En krieket: Die Protea-vroue speel vanaand teen Pakistan in hulle tweede Wêreldbekerwedstryd
# Tongaat Hulett het likwidasie vrygespring nadat ‘n reddingsooreenkoms vanoggend onderteken is met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en ‘n internasionale beleggingsgroep, Vision Consortium. Die ooreenkoms sal na verwagting die suikerprodusent bestendig kry en sowat 250-duisend werksgeleenthede beskerm, verbonde aan sy bedrywighede en voorsieningsketting. Dit vorm deel van ‘n breër herstruktureringspoging om finansiële volhoubaarheid te herstel en ekonomiese bedrywighede te beskerm. Dit dui op ‘n beduidende ingryping in een van Suid-Afrika se belangrikste landbou- en vervaardigingsektore.
# Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, het bevestig die DA-leier Geordin Hill-Lewis het president Cyril Ramaphosa gevra vir veranderings aan die party se verteenwoordiging binne die regering van nasionale eenheid. Dit sluit in dat die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, oorneem as minister van Landbou en John Steenhuisen verskuif na adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging. Magwenya sê Ramaphosa sal binnekort reageer:
Ramaphosa vra geloofsgemeenskappe intussen om ‘n sleutelrol te speel in die hantering van Suid-Afrika se migrasie-uitdagings en om die nasionale dialoogproses te ondersteun. Hy het tydens ‘n spesiale vergadering met godsdiensleiers in die Uniegebou in Pretoria gesê kommer oor onwettige immigrasie is ‘n werklikheid, maar nie die hoofoorsaak van werkloosheid, armoede en misdaad nie, wat breër ekonomiese oplossings vereis. Ramaphosa het ook ‘n migrasiestrategie met vyf pilare uiteengesit:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het gelas die Departement van Korrektiewe Dienste het onregmatig opgetree toe hy beheer oor die Mangaung Korrektiewe-sentrum geneem het nadat die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester ontsnap het. Die tronk is tydens sy ontsnapping in 2022 deur G4S bestuur onder die Bloemfonteinse Korrektiewe Kontrakte. Die hof het bevind daar was bykans tien maande ná die ontsnapping geen voortgesette veiligheidsbedreiging wat die ingryping regverdig nie. Regter Dale Matthew Hinrichsen het die departement gelas om minstens 1,72-miljoen-rand aan BKK terug te betaal, sowel as die regskoste.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vanaand hulle tweede T20-Wêreldbeker-groepwedstryd teen Pakistan in Birmingham, Engeland. Suid-Afrika hoop om weer op die wenpad te kom na hulle teleurstellende nederlaag met 65 lopies in die eerste kragmeting teen Australië. Die veelsydige veteraan Marizanne Kapp sê hulle fokus tans net op Pakistan en nie op die res van die toernooi nie, en glo hulle het ‘n baie goeie kans om sake om te keer. Die Proteas se ander groepwedstryde is teen Indië, Nederland and Bangladesj. Vanaand se kragmeting begin half-agt, Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-646-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….