Nuus 16:00
BULLETIN 5 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nege senior polisie-offisiere word geskors oor die Medicare24-tender van 360-miljoen-rand
# ‘n Nederlandse hof bevind ‘n ma skuldig aan oorlogsmisdade ná sy haar minderjarige seun toelaat om aan te sluit by Islamitiese Staat
# En rugby: Drie beserings-gedwonge veranderings aan die Stormers se span vir die Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig nege senior offisiere is geskors oor hulle beweerde betrokkenheid by die omstrede Medicare24-kontrak van 360-miljoen-rand in die Tshwane-distrik. Hulle sluit in die afdelingskommissaris vir Tegnologie-bestuursdienste, Edith Mavundla, en die waarnemende adjunk-nasionale kommissaris vir Ondersteuningsdienste, Lineo Nkhuoa. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die skorsings is hangende dissiplinêre en verwante ondersoeke. Die kontrak, wat in 2024 toegeken en later gekanselleer is, word ondersoek oor beweerde verkrygings-onreëlmatighede wat verbind word met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala.
Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie verwelkom intussen die afdanking van die voormalige hoof van die Polisiediens se Eenheid teen Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, sê die besluit stuur ‘n sterk boodskap uit dat wangedrag in die Polisiediens nie geduld sal word nie. Hy voeg by beslissende optrede teen onetiese polisiebeamptes is noodsaaklik om die diens se integriteit te beskerm:
# Die president van die Goethe Universiteit in Duitsland se Sentrum vir Finansiële Studies, Axel Weber, waarsku stygende wêreldwye ekonomiese wanbalanse vuur handelspanning, finansiële onbestendigheid en beskermende handelsbeleide aan. Hy het tydens die Tito Mboweni-gedenklesing gesê opkomende ekonomieë is dikwels die eerste slagoffers wanneer wêreldwye likiditeit verskerp en geopolitieke spanning handel en kapitaalvloei ontwrig. Weber vra sterker internasionale samewerking, verhoogde belegging en gebalanseerde handel:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Distrikshof in Den Haag het ‘n 49-jarige Nederlandse vrou skuldig bevind aan oorlogsmisdade en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis omdat sy haar seun, wat toe 14-jaar-oud was, toegelaat het om ‘n vegter vir die Islamitiese Staat te word. Die vrou, slegs geïdentifiseer as Ayada K, is skuldig bevind weens die bystand en aanmoediging van die werwing van ‘n minderjarige soldaat. Sy is ook skuldig bevind aan die bystand en aanmoediging van ‘n terroriste-organisasie en omdat sy haar minderjarige kinders in gevaar gestel het.
# Rugby: Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, het drie beserings-gedwonge veranderings aangebring aan die opdrafspan vir môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster in Dublin. Die vleuel Seabelo Senatla, die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu en die slot Ruben van Heerden is beseer in die kwarteindstryd-oorwinning oor Cardiff in Kaapstad. Wandisile Simelane, Jurie Matthee en Connor Evans vervang hulle, en Warrick Gelant is op die bank om agterlyn-dekking te verskaf. Afskoptyd is half-sewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-467-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….