Nuus 16:00
BULLETIN 4 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Phala Phala-hersieningsaak is vir September in die Wes-Kaapse Hooggeregshof geskeduleer
# Die ACDP sê die Weermag wen nie die stryd teen zama zamas in Johannesburg nie
# En rugby: Embrose Papier is Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-speler van die seisoen
# President Cyril Ramaphosa se aansoek om die Phala Phala-verslag van die Parlement se Artikel 89-paneel te hersien en tersyde te stel, sal vroeg in September in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor word. Dit hou verband met die Konstitusionele Hof se uitspraak dat die Parlement se besluit van Desember 2022 om die verslag te verwerp, ongeldig en ongrondwetlik was. Ramaphosa voer aan die bevindings is gebrekkig. Die verhoor sal na verwagting regs- en grondwetlike vrae oor die Parlement se hantering van die saak heroorweeg.
Ramaphosa sê intussen Afrika benodig billike toegang tot klimaatbefondsing en -tegnologie om ‘n billike energie-oordrag te ondersteun. Hy het gepraat tydens ‘n staatsbesoek van sy Keniaanse ampsgenoot, William Ruto. Ramaphosa sê albei nasies kan die vasteland lei in kunsmatige intelligensie, finansiële tegnologie en inklusiewe ekonomiese groei. Hy sê hulle het ooreengekom Afrika-nasies moet saamwerk om oplossings te vind vir Afrika se probleme, insluitend migrasie:
# Die African Christian Democratic Party sê zama zama’s bedreig wet en orde in Johannesburg. Onwettige mynwerkers grawe tonnels onder die stad en dit dwing sakeondernemings en inwoners om geld te bestee op noodherstelwerk en tydelike infrastruktuur. ACDP se woordvoerder, Chris Rohlssen, sê dis duidelik dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag dit nie regkry om onwettige myn-sindikate uit die metro te verwyder nie:
# Rugby: Die Bulle se Springbok-skrumskakel, Embrose Papier, is beloon vir sy uitstekende spelpeil deur aangewys te word as Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-speler van die seisoen. Sy keuse is bepaal deur stemme van die Springbok-afrigtingspan, die breiers van die vier plaaslike spanne en sekere Suid-Afrikaanse uitsaai-kommentators. Die nommer nege, wat in die Wes-Kaap gebore is, was net 21 toe hy in 2018 sy toetsbuiging teen Wallis gemaak het. Vorige seisoene se wenners is Evan Roos, Manie Libbok, Sanele Nohamba en Sacha Feinberg-Mngomezulu.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-644-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-492-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verkiesingskommissie verwelkom die bekendstelling van Beats for My Peeps op SABC 1. Die televisieprogram van tien episodes fokus op verkiesingsopvoeding en vorm deel van die OVK se breër veldtog om kiesers voor te berei op demokratiese deelname in die plaaslike regeringsverkiesing van November. Die program sluit inhoudskeppers uit verskeie dele van die land in wat hul ervarings deel en nuwe kiesers help verstaan wat om tydens die verkiesingstydperk te verwag. Die OVK sê dis belangrik om kiesers oor hul regte op te voed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….