Nuus 16:00
BULLETIN 8 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die Hooggeregshof-besluit oor EFF-lede se skorsing
# Metrorail Wes-Kaap se treindiens is gedeeltelik herstel ná vandalisme
# En rugby: Ierland se agsteman verwag nog groot dinge van Italië
# Die Parlement verwelkom die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof teen ses EFF-parlementslede se aansoek om hul tydelike skorsing uit die Parlement om te keer. Dit het verband gehou met verlede jaar se staatsrede waar die EFF-leier, Julius Malema, die adjunkpresident, Floyd Shivambu en nog vier EFF-lede die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se opdrag verontagsaam het om die saal te ontruim nadat hulle die verhoog bestorm het. Die Parlement sê die aansoek was ‘n misbruik van regsprosesse. Die Parlement het sy verbintenis herbevestig tot die handhawing van orde tydens belangrike byeenkomste.
Intussen sê die African Transformation Movement, president Cyril Ramaphosa sal kosmetiese chirurgie uitvoer in sy Staatsrede, om die werklike toestand van die nasie, en die skande, te probeer toesmeer, van hoé hy Suid-Afrika onder sy bewind en leierskap na ‘n plek van moedeloosheid gelei het weens sy geweldige mislukkings. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die president moet liewer in sy Staatsrede die waarheid blootlê en ook erken dat sy belofte van ‘n sogenaamde ‘nuwe dagbreek’, nooit ‘n werklikheid geword het nie:
# Metrorail in die Wes-Kaap sê treindienste is gedeeltelik herstel ná erge ontwrigtings wat veroorsaak is deur opsetlike beskadiging tussen die stasies Bellville en Tygerberg. Operasionele lyne sluit nou die Kaapse Vlakte in, Kaapstad na Heathfield via Athlone en die Suidelike lyn, en Kaapstad na Vishoek via Wynberg. Pogings is aan die gang om die Sentrale lyn te herstel. Die woordvoerder, Zinobulali Mihi, sê tegnici werk reeds die hele dag om die lyne te herstel na die gebiede wat nog geraak word:
# Rugby: Ierland se agtsteman, Jack Conan, meen Italië sal binnekort die ander spanne in die Sesnasies-reeks begin klop. Dit volg nadat Engeland ‘n groot terugkeer moes maak in die tweede helfte, om Italië in die eerste ronde van die kompetisie te klop. Ierland het verlede jaar ook gesukkel om Italië in Rome te klop, terwyl Italië Wallis in 2022 verslaan het. Conan sê die Italianers is bekend vir hul passie en emosie en het nou ook akkuraatheid bygevoeg. Ierland speel Sondag in Dublin teen Italië in die tweede ronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-617-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-3-sent per vat.
# En, laastens: Die voormalige Eskom-bedryfshoof, Jan Oberholzer, is aangewys as ‘n nie-uitvoerende direkteur van ‘n Sub-Sahara Afrika hernubare energie-projekontwikkelaar, die Jearrard Energy Resources-groep. Oberholzer se aanstelling val saam met die maatskappy se ontwikkeling van ‘n 12 GigaWatt sonkrag-tot-groen-waterstof-aanleg in Mosambiek. Die aanleg beoog om groen waterstof te verskaf vir uitvoer, kragsentrales en nano- en mikronetwerk-oplossings, om netto-nul te bereik teen 2050. Oberholzer sal raadgewende ondersteuning bied vir die implementering van sonkrag-tot-groenwaterstofprojekte in Mosambiek én ander Suider-Afrika-lande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….