Nuus 16:00
BULLETIN 16 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# McKenzie steun die aanstelling van Cachalia as waarnemende minister van Polisie
# Solidariteit waarsku oor ‘n moontlike staking by FlySafair
# En, Rusland vuur honderde hommeltuie na Oekraïne terwyl Trump vra vir vrede
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, is tevrede oor president Cyril Ramaphosa se besluit om ‘n kommissie van ondersoek in te stel na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. McKenzie het aan Newzroom Afrika gesê hy steun die aanstelling van die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, nadat minister Senzo Mchunu op spesiale verlof geplaas is. Hy is van mening die polisie word deur bendes beheer en hoop Cachalia sal aandag skenk aan die kwessie:
# Solidariteit sê salarisgesprekke met FlySafair het ‘n dooiepunt bereik en vlieëniers berei voor om te staak. Volgens die vakbond het die meeste vlieëniers die lugredery se afsluitingsaanbod van ‘n verhoging van ses-persent verwerp te midde van ‘n baie gespanne verhouding met bestuur. Helgard Cronjé van Solidariteit sê belangrike bekommernisse sluit in ‘n omstrede skofrooster en nuwe verlofbeleid wat volgens vlieëniers hul lewensgehalte benadeel:
# Rusland het honderde hommeltuie, artillerie-skote en ballistiese missiele na Oekraïne afgevuur ondanks die Amerikaanse president, Donald Trump, se oproepe om ’n vredesooreenkoms te sluit. ‘n Vrou is dood en meer as 20 mense gewond, terwyl ‘n missielaanval water- en kragtoevoer na die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, se tuisdorp, Kryvyi Rig, ontwrig het. Die aanval volg twee dae nadat Trump gedreig het om streng sanksies teen Rusland in te stel tensy hy binne 50 dae ‘n vredesverdrag sluit om die oorlog van drie jaar met Oekraïne te beëindig.
# Boks: Die Suid-Afrikaanse bokser Kevin ‘Two Guns’ Lerena beloof om Saterdag in Londen die voormalige Britse ligswaargewig-kampioen Lawrence Okolie se vlam te blus. Lerena, die Wêreld-boksraad se super-ligswaargewig-kampioen, sal vir die Silwer Swaargewigtitel teen Okolie baklei in ‘n voorgeveg vir die herontmoeting tussen Daniel Dubois en Oleksandr Usyk op die Wembley-stadion. Lerena, wat terugkeer na swaargewigaksie, het ‘n rekord van 31 oorwinnings en drie nederlae. Hy sien uit na ‘n uitklopoorwinning in die geveg oor 12 rondes.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Pretoria sê jongmense met digitale en kunsmatige intelligensie-vaardighede het ‘n groter kans om formele werk te kry, hoër inkomste te verseker en hulle weg in dinamiese werksomgewings te vind. Teen 2027 kan 43-persent van werkverwante take deur masjiene uitgevoer word, met datagedrewe besluitneming, outomatisering en slim-stelsels wat standaardgebruik word. ‘n Senior dosent, Sean Kruger, sê KI-gereedheid vereis kritiese data-vertolking, etiese oordeel, algoritmiese bewustheid en die vermoë om strategies met KI-instrumente te werk. Hy sê KI moet nooit kern-menslike eienskappe soos kritiese denke vervang nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….