Nuus 16:00
BULLETIN 2 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Lid van die Valkeverneem hy is vrygespreek nadat hy verkeerdelik betrek is in ‘n poligraaftoets
# Libanon kondig ‘n gedeeltelike skietstilstand tussen Israel en Hizbollah aan, maar aanvalle duur voort
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter verwag beter spel in Bordeaux
# ‘n Adjudant-offisier van die Valke in KwaZulu-Natal, Karl Sander, het sy getuienis voor die Madlanga-kommissie afgesluit nadat hy verneem het hy is verkeerdelik betrek in ‘n poligraaftoets wat veroorsaak het dat hy uit sy pos verwyder is. Getuienisleier Lee Segeels-Ncube het onthul die Forensiese Wetenskaplaboratorium het ernstige foute ontdek. Die toets is ongeldig verklaar en Sander is vrygespreek. Segeels-Ncube sê die eksaminator is verbied om verdere poligraaftoetse uit te voer:
# Die SABC gaan die volgende drie jaar 704-miljoen-rand bestee aan opvoedkundige en kinderprogramme, befonds deur die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë. Die uitsaaier het aan MyBroadband gesê die toewysing beloop jaarliks 234-miljoen-rand, maar is steeds onvoldoende om sy openbare diensmandaat van sowat twee-miljard-rand per jaar ten volle te befonds. Die korporasie sê die befondsing is uitsluitlik toegewys en kan nie as ‘n reddingsboei gebruik word nie.
Nuus uit die buiteland:
# Libanon het ‘n gedeeltelike skietstilstand tussen Hizbollah en Israel aangekondig, wat neerkom op ‘n beperkte afskaling van aanvalle waarin duisende mense dood is en die Amerikaans-Israelse oorlog met Iran aangevuur het. Libanon se ambassade in Washington sê dit sal nie die aanvalle beëindig nie, maar vra Israel om nie Beiroet en sy voorstede wat deur Hizbollah beheer word, aan te val nie, met die Irans-gesteunde groep wat sy aanvalle op Israel sal staak. Libanon gaan môre in Washington probeer om die skietstilstand uit te brei tydens gesprekke met Israel.
# Rugby: Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, verwag van sy span om beter te speel in die komende naweek se laaste Sewes-wêreldkampioenskaps-toernooi in Bordeaux, Frankryk. Dit volg nadat hulle teen Australië verloor het in die eindstryd van verlede naweek se toernooi in Valladolid, Spanje. Snyman sê hulle het nie die soort spel opgedis waartoe hulle in staat is nie. Suid-Afrika is nogtans boaan die punteleer nadat hulle die eerste toernooi in Hongkong gewen het. Hulle speel in Bordeaux teen Fidji, Kenia en Brittanje in Groep A.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-142-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-525-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Kaapstad het ‘n langtermyn hernubare elektrisiteitsvoorsienings-ooreenkoms met Discovery Green onderteken. Dit behels dat 70- tot 90-persent van die elektrisiteit wat op die hoof- en die gesondheidswetenskaps-kampus gebruik word, vanaf volgende jaar vir byna ‘n dekade uit hernubare bronne verkry word. Woordvoerder Elijah Moholo sê die ooreenkoms sal na verwagting Ikeys se koolstofuitstralings met ongeveer 33-duisend-200 ton per jaar verminder en sluit samewerking met navorsing, vaardigheidsontwikkeling en studentebeurse in:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….