Nuus 16:00
BULLETIN 1 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Styging in die petrolprys en ‘n verlaging in die dieselprys tree hierdie week in werking
# Die DA gee die nasionale regering die skuld vir voortgesette geweld in Wes-Kaapse gemeenskappe
# En sokker: Nog 18 gelukkige ondersteuners gaan by Bafana Bafana in Monterrey aansluit
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het nuwe brandstofpryse aangekondig wat van Woensdag van krag is. Petrolpryse sal met 1,43-rand-per-liter styg en dieselpryse sal met tussen 2,62- en 3,25-rand-per-liter daal. Die aanpassings volg op bestendige wêreldwye oliepryse en ‘n sterker rand, wat aanvanklik tot oorverhaling in brandstofpryse gelei het. Die Nasionale Tesourie se gedeeltelike herinstelling van brandstofheffings het egter tot petrolprysverhogings gelei. Die prys van lampolie daal met 5,96-rand-per-liter en vloeibare petroleumgas word 17-sent-per-kilogram goedkoper.
# Moody’s het Eskom se B2-langtermyn-groepskredietgradering bevestig met ‘n bestendige vooruitsig. Moody’s verwys na verbeterde bedryfsprestasie, sterker kontantvloei en beter likiditeit. Die agentskap sê die regering se skuldverligtings-maatreëls het bygedra tot Eskom se finansiële herstel, maar beduidende uitdagings duur voort. Dit sluit in stygende munisipale skuld, tariefregulasies en kapitaalbeleggings-vereistes. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê die kragvoorsiener bly gefokus op sy omkeerstrategie. Hy beklemtoon ‘n jaar sonder beurtkrag is ‘n belangrike mylpaal vir energie-sekerheid en ekonomiese groei.
# Die DA in die Wes-Kaap sê die nasionale regering is vervreemd van die werklikhede waarmee bende-geteisterde gemeenskappe te kampe het. Dit volg na die naweek se skietvoorvalle in Fisantekraal en Soutrivier in Kaapstad waarin drie mense dood en drie gewond is. Benedicta van Minnen van die DA het adjunkpresident Paul Mashatile gekritiseer omdat hy nie regstreeks met die betrokke inwoners geskakel het tydens ‘n onlangse besoek aan Mitchells Plain nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, bied vandag sy jaarlikse ‘Kies Frankryk’-beleggingsberaad aan, met buitelandse beleggers wat reeds miljarde euro vir kunsmatige intelligensie- en dataprojekte beloof het. Sowat 200 senior bestuurslui van reg oor die wêreld word in die Paleis van Versailles wes van Parys verwag vir die jaarlikse geleentheid. Verlede jaar se konferensie het ‘n rekord van 378,6-miljard-rand se aangekondigde projekte opgelewer. Die hoofde van verskeie groot multinasionale beleggingsondernemings woon die beraad by, onder andere van Japan, Kanada en Taiwan.
# Sokker: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het aangekondig dat nog 18 Suid-Afrikaanse geesdriftiges Bafana Bafana sal kan ondersteun op die Wêreldbekertoernooi. Hulle sal Bafana se derde groepswedstryd teen Suid-Korea op 24 Junie in Monterrey, Mexiko, kan bywoon deur middel van ‘n kompetisie geborg deur die privaat sektor. Woordvoerder Zimasa Velaphi sê deelnemers moet ‘n oortuigende digitale voorstelling skep wat verduidelik hoekom hulle verdien om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-149-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-500-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….