Nuus 16:00
BULLETIN 29 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie buitelandse burgers verskyn in ‘n Musina-hof oor die dwelmbeslaglegging van een-miljard-rand by Beitbrug
# Die stadsraad van Tshwane keur ‘n openbare deelnameproses goed vir die hernoeming van die Wonderboom-lughawe
# En rugby: Ruhan Nel keer terug om die Stormers in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd te lei
# Drie buitelandse burgers het in die Musina-landdroshof in Limpopo verskyn en sal in aanhouding bly tot 5 Junie in verband met ‘n dwelmvonds van byna een-miljard-rand by die Beitbrug-grenspos. Die verdagtes, ‘n Malawiese man en vrou en ‘n Zambiese man, is in hegtenis geneem nadat amptenare van die Grensbestuursowerheid ‘n Malawi-geregistreerde vragmotor onderskep het met 28 sakke van ongeveer 713 kilogram, van ‘n middel wat in die produksie van Mandrax gebruik word. Die staat moet nou ‘n Chewa-tolk in die hande kry en ook die beskuldigdes se persoonlike inligting verifieer.
# Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Refilwe Mtshweni-Tsipane, sê Begrotingspos 2 word beskou as die mense se begroting aangesien dit die Parlement se kern grondwetlike verantwoordelikhede befonds. Mtshweni-Tsipane het in die Parlement gesê die toewysing ondersteun wetgewing, uitvoerende toesig, openbare deelname, interregeringsverhoudings en internasionale samewerking. Sy voeg by die begroting versterk ook administratiewe stelsels wat Parlementslede en politieke partye in staat stel om hul pligte doeltreffend uit te voer:
# Die Afrika-Ontwikkelingsbank en die Wêreld Ekonomiese Forum het die Humanitêre en Veerkragtigheids-beleggingspadkaart vir Afrika bekend gestel om privaat beleggings na die vasteland se kwesbaarste ekonomieë te lok. Die projek het ten doel om aandag te skenk aan Afrika se geraamde jaarlikse ontwikkelingsbefondsingsgaping van 6,4-duisend-milard-rand. Die padkaart beoog ook om volhoubare befondsing vir infrastruktuur, ekonomiese herstel en veerkragtigheidsprojekte te ontsluit. Organiseerders sê die vennootskap sal help om beleggers te mobiliseer, risiko’s te verlaag en langtermyngroeigeleenthede in kwesbare Afrikalande te versterk.
Die Stadsraad van Tshwane het ‘n openbare deelnameproses goedgekeur oor ‘n voorstel om die Wonderboom-lughawe te hernoem ter ere van die oorspronklike Ndebele-grondeienaars in die gebied. Die voorstel is reeds in 2018 ingedien en heroorweeg ingevolge die stad se Beleid oor Geografiese Name wat in 2023 aanvaar is. Burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê inwoners en belanghebbendes sal genooi word om kommentaar te lewer voor ‘n besluit geneem word:
# Rugby: Ruhan Nel is terug ná ‘n besering en sal môremiddag die Stormers aanvoer in hul kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen Cardiff op die Kaapstad-stadion. Hy word bygestaan deur die ervare agterspelers, Seabelo Senatla en Dan du Plessis, wat die enigste veranderings aan die beginspan vir hierdie belangrike uitspeelwedstryd is. Nel en Du Plessis speel vir die 30ste keer saam as senterpaar en is daarmee gelyk met De Wet Barry en Marius Joubert wat die meeste kere vir die Stormers in die kombinasie uitgedraf het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-134-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-525-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….