Nuus 16:00
BULLETIN 28 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema bepleit Afrika-nywerheidsontwikkeling
# DA vra dringende paroolhervorming terwyl 28-duisend paroolgangers voortvlugtig is
# En rugby: Drie Suid-Afrikaanse spanne is die naweek in die VRK-kwarteindstryde
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê Afrika bly ekonomies oneweredig weens ’n gebrek aan ontwikkeling in die vervaardiging- en nywerheidsektor, ondanks sy uitgebreide natuurlike hulpbronne. Hy het op die EFF se Afrikadag-beraad in Pretoria gesê Afrika dra slegs sowat 2,5-persent by tot die wêreldekonomie terwyl dit bykans 18-persent van die wêreld se bevolking verteenwoordig. Malema bepleit groter beleggings in nywerheidsontwikkeling om die vasteland se ekonomiese moontlikhede te ontsluit:
# Die uitvoerende hoof van die Mineraleraad Suid-Afrika, Mzila Mthenjane, sê gedissiplineerde beleidshervorming, vernuwing en sterker vennootskappe kan groei en werkskepping in Suid-Afrika se mynbousektor ontsluit. Mthenjane het tydens die raad se jaarvergadering gesê mynbou is steeds van kritieke belang vir ekonomiese ontwikkeling en nywerheidsgroei. Hy het die belangrikheid van infrastruktuurhervorming, regulatoriese sekerheid en belegging in verkenning beklemtoon. Die raad sê vernuwing, digitalisering en vaardigheidsontwikkeling is die sleutel tot die verbetering van mededingendheid en langtermyn-volhoubaarheid.
# Die DA sê dringende hervormings word benodig in die paroolstelsel na berigte dat byna 28-duisend paroolgangers voortvlugtig is. Die party beplan om die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste te vra om die gemeenskaps-rehabilitasiestelsel te hersien en GPS-geaktiveerde elektroniese monitering in te stel vir gewelddadige oortreders op parool. Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê die bevindings ontbloot groot mislukkings in die Departement van Korrektiewe Dienste en is ‘n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die meer as elf-miljard-rand wat provinsiale Gesondheidsdepartemente aan die Nasionale Gesondheids-laboratoriumdiens skuld. KwaZulu-Natal skuld die meeste, naamlik net meer as 4,8-miljard-rand, gevolg deur Gauteng met 3,2-miljard en die Oos-Kaap met meer as 1,1-miljard. Claude Naicker van die vakbond sê die stygende skuldkrisis belemmer die diens se vermoë om broodnodige gesondheidsorgdienste te bied:
# Rugby: Drie Suid-Afrikaanse spanne speel die naweek in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle verwelkom Saterdagmiddag een-uur die Ierse span Munster op Loftus, gevolg deur die wedstryd tussen die Stormers en Cardiff in Kaapstad half-vier. Die Leeus speel nege-uur die aand in ‘n wegwedstryd teen Leinster in Ierland. In die ander kwarteindstryd pak Glasgow Warriors nog ‘n Ierse span, Connacht, in Skotland. Die halfeindstryde word volgende naweek beslis en die eindstryd die 20ste Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-296-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-391-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….