Nuus 16:00
BULLETIN 25 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer prys interne ouditeur-verklikkers wat korrupsie aanmeld
# Elektrisiteitstoevoer is herstel na 80-persent van diegene wat deur onlangse storms in die Wes-Kaap geraak is
# En krieket: Die IPL se uitspeelronde begin dié week
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het interne ouditeure geprys wat hul veiligheid waag om oortredings aan te meld. Sy het gepraat tydens die Afrika-federasie van Interne Ouditeurs se forum oor korporatiewe regering. Gcaleka vra meer beskerming en finansiële ondersteuning vir verklikkers en waarsku hulle bly kwesbaar wanneer hul korrupsie blootlê. Sy beklemtoon interne ouditeure speel ‘n belangrike rol in die voorkoming van korrupsie voor openbare fondse verlore gaan:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê Eskom het elektrisiteitstoevoer herstel na 80-persent van verbruikers wat geraak is, en herstel en opruimingswerk duur voort. Dit volg nadat hewige storms wydverspreide skade aan infrastruktuur aangerig het, elektrisiteitsvoorsiening ontwrig en honderde paaie beskadig het. Winde sê in die Kaapse Wynland-distrik is herstelwerk aan die gang aan die hoofkraglyn tussen Boskloof en Romansrivier, terwyl spanne ook werk om foute in Chavonnes, Hexrivier, Rawsonville en Witzenberg te herstel:
# City Power sê hy begin betekenisvolle vordering toon met die vermindering van elektrisiteitsverliese in die Stad Johannesburg. Dit volg nadat verskeie ingrypings ingestel is. City Power gaan voort om inkomstebestuur te versterk, bedryfs-doeltreffendheid te verbeter en langtermyn netwerkvolhoubaarheid te ondersteun. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê elektrisiteitsverliese het afgeneem vanaf ongeveer 40,53-persent in Julie verlede jaar tot 25,95-persent verlede maand:
# Krieket: Die Indiese Premierliga betree dié week die uitspeelronde. Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, en Gujarat Titans, wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het in die liga-fase, pak mekaar môre in die eerste kwalifiserende wedstryd in Dharamsala. Die wenner sal na Sondag se eindstryd in Ahmedabad deurdring. Die verloorder kry Vrydag nog ‘n kans om die eindstryd te haal wanneer hulle te staan kom teen die wenner van Woensdag se uitskakelwedstryd tussen Sunrisers Hyderabad en Rajasthan Royals in New Chandigarh.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-325-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, het inwoners tydens Afrikadagvierings in Durban gevra om Ubuntu en sosiale samehorigheid te bevorder te midde van groeiende spanning oor ongedokumenteerde migrante. Ntuli sê onwettige migrasie moet binne die wet aangepak word, en waarsku teen xenofobie. Hy het bevestig die regering betrek gemeenskappe met dialoog en verhoog ook grensveiligheidsmaatreëls. Ntuli voeg by owerhede sal voortgaan met intelligensiegedrewe operasies te midde van bedreigings teen belegging en sosiale bestendigheid in die provinsie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….