Nuus 16:00
BULLETIN 22 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Suid-Afrikaanse aktivis beweer Israelse magte het hom gemartel oor sy nasionaliteit
# Ongekende reën verhoog Kaapstad se damvlakke tot 71-persent binne slegs ‘n week
# En sokker: Haaland en Odegaard is die groot name in Noorweë se Wêreldbekerspan
# Die Suid-Afrikaanse aktivis Ebrahim Peters beweer Israelse magte het hom gemartel weens sy nasionaliteit nadat hy tydens ‘n humanitêre sending na Gaza aangehou is. Hy was onder ses lede van die Global Sumud-flottielje Suid-Afrika wat op see voorgekeer is. Die groep is intussen vrygelaat en word môre terug in Suid-Afrika verwag. Peters sê hulle was in internasionale water en is sonder enige aanklagte in Israel aangehou:
# Kaapstad se damvlakke het binne ‘n week met ongeveer 20-persent gestyg ná ongekende reën en staan nou op 71-persent. Dit het die stad uit die vroeë fase van droogtewaarskuwing verskuif, hoewel inwoners steeds aangespoor word om water verantwoordelik te gebruik. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, waarsku die buitengewone reën waarborg nie ‘n deurlopende goeie watervoorraad nie, en sê die waterverbruik bly hoog.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy verskerp maatreëls om betaallyste te beheer, gevolgebestuur te verbeter en seker te maak staatsgeld word beskerm en verantwoordelik gebruik. Die departement het 11,5-miljoen-rand aan spookwerkers betaal, asook miljoene aan werknemers wat voorlopig geskors is. Tot op hede is 24 verdagte en bevestigde spookwerkers op die betaallys geïdentifiseer. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die lewering van mediese dienste moet beskerm word:
# ActionSA se burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni, Xolani Khumalo, gaan die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, amptelik nader oor burgemeester Nkosindiphile Xhakaza se beweerde versuim om ‘n verslag oor die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, ter tafel te lê. Lerutla is verlede maand in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling. Khumalo se woordvoerder, Tumelo Tshabalala, sê Xhakaza het die Wet op Munisipale Stelsels oortree:
# Sokker: Manchester City se doelskieter, Erling Haaland, en Martin Odegaard van Arsenal is die groot name in Noorweë se groep vir die Wêreldbekertoernooi wat deur koning Harald aangekondig is. Odegaard is kaptein. Dis die eerste keer sedert 1998 dat Noorweë aan die toernooi deelneem. Hy het gekwalifiseer deur al agt kwalifiserende wedstryde te wen in ‘n groep wat die viermalige kampioen, Italië, ingesluit het. Afrigter Stale Solbakken sê hulle is in ‘n baie moeilike groep saam met Frankryk, Senegal en Irak, maar hy glo hulle het ‘n sterk span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-7 teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-431-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-528-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….