Nuus 16:00
BULLETIN 21 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Botswana vra sterker streeksamewerking
# Suid-Afrika se infrastruktuurbesteding sal teen 2050 9,5-duisend-miljard-rand oorskry
# En rugby: Die veelsydige Leeu-voorspeler Ruan Venter se seisoen is kortgeknip weens ‘n ernstige kniebesering
# Botswana se president, Duma Boko, sê Afrika-lande moet hul samewerking versterk om bestand te wees teen internasionale, ekonomiese en geopolitieke uitdagings. Hy het op die Suid-Afrika-Botswana-bi-nasionale kommissie se beraad gefokus op die stygende lewenskoste, energie-onsekerheid en klimaatsverandering. Boko het Afrikalande aangemoedig om te belê in vernuwing en kennisontwikkeling om inklusiewe ekonomiese groei te bevorder. Hy sê die jong en groeiende bevolking plaas Afrika in ‘n leiersposisie:
# PwC se Globale Infrastruktuurvooruitsig-verslag van 2025 tot 2050 voorspel Suid-Afrika se infrastruktuur-besteding sal teen 2050 9,5-duisend-miljard-rand oorskry. Die verslag sê vervoer, hulpbronne en krag sal oor die volgende 25-jaar 63-persent van die algehele belegging vorm. Jaarlikse infrastruktuur-besteding sal na verwagting teen 2050 met 39-persent tot 26-miljard-dollar styg. PwC sê die groeiende vraag na kunsmatige intelligensie, digitale netwerke en verstedeliking sal belegging aanvuur, terwyl Afrika na verwagting die wêreld se vinnigste groeiende infrastruktuur-beleggingskoers sal aanteken.
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd omdat die Werkloosheidsversekeringsfonds nie sy ou webwerf gesluit het nie. Dit het veroorsaak dat duisende werklose Suid-Afrikaners hul WVF-eise op ‘n verouderde stelsel indien. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die ou platform is steeds in werking en daar is geen aanduiding dat dit nie meer geldig is nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die moedermaatskappy van sosiale mediaplatforms soos Facebook en WhatsApp, Meta het hierdie week met sy jongste ronde afleggings begin, wat tien-persent van sy werksmag of ongeveer agt-duisend poste sny. Werkers wat tot dusver geraak word, sluit in diegene in die kuberveiligheid-, integriteits- en inhoudsontwerp-afdelings. Meta sê die posverminderings vorm deel van sy voortgesette pogings om die onderneming beter te bestuur en sy ander beleggings te help verreken, insluitend in kunsmatige intelligensie. Meta het reeds ongeveer twee-duisend poste gesny tydens twee kleiner rondes.
# Rugby: Die veelsydige Leeu-voorspeler Ruan Venter se seisoen is verby weens ‘n ernstige kniebesering wat hy vroeër die maand opgedoen het in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Leinster. Hy het ‘n geslaagde operasie ondergaan en kan tot nege maande uit wees. Die 23-jarige Venter, wat sy enigste toets vir die Springbokke in 2024 gespeel het, sê hy is verslae oor die langtermyn-besering, maar dankbaar die prosedure het glad verloop. Hy word beskryf as een van die Leeus se uitblinkers dié seisoen wat weer in aanmerking sou kom vir die Bokke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-19 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-58-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-508-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….