Nuus 16:00
BULLETIN 14 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa dank minister Tolashe af ná bewerings oor onverklaarde voertuie
# Brittanje se ekonomie groei onverwags te midde van politieke onbestendigheid en die Iranse oorlog
# En rugby: Die Springbok Asenathi Ntlabakanye is vir 18 maande geskors
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, ingevolge die Grondwet afgedank. Dit volg ná ernstige bewerings dat sy versuim het om twee voertuie te verklaar wat glo deur Chinese amptenare aan die ANC-Vroueliga geskenk is, en dit in haar kinders se name geregistreer het. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die bewerings teen Tolashe is ernstig en nie bloot geringe politieke omstredenhede nie:
Die DA het vroeër gesê die departement het ineengestort onder Tolashe. Dit volg nadat sommige SASSA-begunstigdes wat reeds biometries nagegaan is, nog nie hierdie maand hul toelaes ontvang het nie. Nazley Sharif van die DA sê volgens begunstigdes bly telefone onbeantwoord, ondersteuningskanale is ontoeganklik en SASSA is doodstil. Hulle sê weens die gure weer is dit gevaarlik en in sommige gevalle onmoontlik om na plaaslike kantore te gaan:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Ontleding deur die finansiële inligtingsfirma S&P Global Market Intelligence toon groei in Afrika suid van die Sahara sal vanjaar na verwagting steeds 4,1-persent bereik en volgende jaar 3,8-persent. Die hoof van streeksontleding, Thea Fourie, sê baie lande in die streek is minder geraak deur prysskokke soos dié van brandstof en ander gebruiksgoedere vergeleke met Europa of die Asië-Stille Oseaan-gebied. Sy sê die streek se veerkragtigheid is te danke aan die vraag na kritieke minerale en skaars aardmetale, asook die versnelling in gebruiksgoedere-pryse die afgelope paar maande, soos koper, aluminium en litium.
Die Britse minister van Finansies, Rachel Reeves, sê intussen die land se jongste groeisyfers toon die regering het die regte ekonomiese plan. Die ekonomie het in die eerste kwartaal met 0,6-persent gegroei toe produksie en die boubedryf goed presteer het ondanks hoër energiekoste weens die Iranse konflik. Reeves sê ekonomiese bestendigheid moenie nou in gevaar gestel word nie, en waarsku teen ‘n moontlike leierskaps-uitdaging teen eerste minister Keir Starmer:
# Rugby: Die Springbok-stut Asenathi Ntlabakanye is vir 18 maande geskors nadat hy positief getoets het vir ‘n verbode middel. Hy is verwyder uit die Leeus se span vir die naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Ierse span Munster, aangesien die verbod sedert gister van krag is. Leeus Rugby bevestig hy het inligting van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Opkikkervrye Sport ontvang oor die besluit. Hulle sal voortgaan om Ntlabakanye te ondersteun tydens die proses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-17 teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-401-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-703-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….