Nuus 16:00
BULLETIN 11 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Valke-offisier is bekommerd oor korrupsie-bewerings in dwelmklopjagte sonder inhegtenisnemings
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe waarsku oor vlugvertragings te midde van gure weer
# En krieket: RCB se afrigter Andy Flower is ‘n stywe boete opgelê vir oortreding van die IPL se gedragskode
# Die bevelvoerder van die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaadeenheid aan die Wes-Rand, Francois Steyn, het voor die Madlanga-kommissie getuig daar was geen inhegtenisnemings ná die Aeroton-dwelmklopjag in 2021 waarin beslag gelê is op byna 750-kilogram kokaïen nie. Steyn beweer polisie-inmenging het moontlik die ondersoek in die wiele gery. Hy sê sekere dwelmsindikate gebruik korrupte amptenare in die polisie, doeane en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om dwelms terug te herlei na misdaad-netwerke:
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe sê ongunstige weersomstandighede in Kaapstad en George ontwrig vlugbedrywighede. Die lughawens bly oop en operasioneel ondanks die gure weer in dele van die Wes-Kaap. Lughawe-owerhede hou die verwikkelinge noukeurig dop, terwyl vlugte, waar nodig, na ander lughawens herlei word. Passasiers is gewaarsku dat vlugte vertraag, herlei of gekanselleer kan word.
# Afrika se Reis-indaba 2026 het in Durban begin met die tema “Onbeperkte Afrika: Groei van Afrika se Toerisme-ekonomie”. Die vierdaagse toerisme‑ en handelsplatform, gelei deur die adjunkminister van Toerisme, Makhotso Sotyu, het afgeskop met BONDay, met die fokus op sake, vernuwing en digitale hervorming in toerisme. Toerismeleiers van reg oor Afrika wil vennootskappe versterk en die toerisme-ekonomie bevorder. President Cyril Ramaphosa sal na verwagting môre die hoofkonferensie amptelik open.
# Krieket: Royal Challengers Bengaluru se hoofafrigter, Andy Flower, is met 15-persent van sy wedstrydfooi beboet vir die oortreding van Artikel 2.3 van die Indiese Premierliga se gedragskode. Die artikel dek die gebruik van hoorbare, onwelvoeglike taal tydens ‘n wedstryd. Die 58-jarige het gister ‘n aggressiewe gesprek met die vierde skeidsregter gehad oor ‘n omstrede grenshou-beslissing tydens RCB se sege oor Mumbai Indians. Die IPL sê Flower het die oortreding erken en die straf aanvaar wat deur wedstrydskeidsregter Amit Sharma opgelê is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-260-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-688-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: President Ramaphosa het sy meegevoel betuig aan die mense en regering van Botswana ná die dood van oudpresident Festus Mogae in die ouderdom van 86. Mogae is verlede week in die hospitaal dood. Hy word onthou as ‘n vooraanstaande staatsman en patriot, toegewy daaraan om Botswana te dien. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Mogae het demokrasie, goeie staatsbestuur en sterk betrekkinge met Suid‑Afrika bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….