Nuus 16:00
BULLETIN 23 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lebogang Phiri onthul die doelbewuste beskadiging van waterinfrastruktuur in Tshwane
# Die minister van Vervoer stel openbare raadpleging bekend oor die spoorweg-meesterplan
# En Iran kry die eerste tolgeld van skepe in die Seestraat van Hormoes
# Die geskorste inspekteur van die Tshwane-metropolisie, Lebogang Phiri, het aan die Madlanga-kommissie gesê misdaadsindikate het doelbewus waterinfrastruktuur beskadig om voorsiening in Tshwane te ontwrig. Hy beweer onwettige watertenkwa-operateurs onttrek water uit munisipale brandkrane en verkoop dit nadat reservoirs beskadig is. Phiri sê hy het die ontplooiing van die privaat sekerheids-firma Gubis85 Solutions gestaak nadat hy e-posboodskappe ontvang het waarin sekerheidsdienste sonder sy goedkeuring gemagtig is om infrastruktuur te bewaak:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het openbare raadpleging bekendgestel oor die konsep-nasionale spoorweg-meesterplan om spoorvervoer as die ruggraat van die vervoer- en logistieke stelsel te posisioneer. Dit beoog om meer vrag- en passasiersvervoer na treine te verskuif, verkeersopeenhopings en vervoerkoste te verminder en ekonomiese groei te bevorder. Creecy het belanghebbendes op die bekendstelling in Kemptonpark, Gauteng, gevra om deel te neem aan die raadplegings-proses, wat tot Julie duur:
# Die SAKP se sekretaris-generaal, Solly Mapaila, het lede aangespoor om vas te staan teen ultimatums van sy alliansievennoot, die ANC. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê die SAKP sal by sy onafhanklikheid en beginsels staan te midde van toenemende spanning oor planne om onafhanklik aan die plaaslike regeringsverkiesing deel te neem. Mapaila waarsku teen interne druk wat tot dissiplinêre optrede kan lei en versoek beskerming van die party se agenda:
Nuus uit die buiteland:
# Iran het die eerste tolgeld van skepe in die Seestraat van Hormoes ontvang. Die adjunk-speaker van die Parlement wou nie sê wie die tolgeld betaal het, of hoeveel dit was nie, en volgens die BBC kon sy uitsprake nie gestaaf word nie. Teheran het voor die huidige wapenstilstand gesê hy sal deurvaart beperk tot wat hy as vriendelike lande beskryf, en tolgeld invorder van skepe wat deur die seestraat vaar. President Donald Trump het voorheen gesê Amerika sal skepe teiken wat Iran betaal om die roete te gebruik.
# Motorsport: McLaren se renjaers, Lando Norris van Brittanje en die Australiër Oscar Piastri, sê dit sal ‘n groot verlies vir Formule Een wees as die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, sou uittree. Red Bull se Nederlandse renjaer het by verskeie geleenthede gesinspeel dat hy aan die einde van die seisoen kan vertrek en frustrasie uitgespreek oor dié seisoen se ingrypende reëlveranderinge. Piastri sê hulle wil teen die bestes jaag en hulself teen die bestes bewys. Verstappen is tans negende op die bestuurderspunteleer na ‘n teleurstellende begin van die seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-749-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-732-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….