Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Ramamaphosa kondig planne aan om onwettige mynbou- en infrastruktuurskade aan te pak
# Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum is geaktiveer ná wydverspreide kragonderbrekings
# En, sokker: President Ramaphosa wens Bafana Bafana voorspoed toe in Afrikabeker-halfeindstryd
# President Cyril Ramaphosa het ‘n groter fokus aangekondig op die aanpak van onwettige mynbou en om aandag te skenk aan infrastruktuurskade binne die mynbousektor. Hy het in sy toespraak tydens die Belegging-in-Afrika-mynbou-indaba in Kaapstad, die stigting van ‘n gespesialiseerde polisie-eenheid onthul wat saam met die Weermag sal werk. Volgens Ramaphosa het die Departement van Minerale Bronne en Energie, deur Mintek, eienaarlose en verlate myne verseël, met planne om bykomende skagte in die komende jare te sluit:
# Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum is geaktiveer om wydverspreide kragonderbrekings in die Sentraal-Karoo, Tuinroete en Overberg aan te pak. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê die onderbreking het gevolg nadat sewe van Eskom se kraglyntorings die naweek tydens ‘n donderstorm omgeval het. Gebiede wat geraak is, sluit in Sentraal-Karoo, Leeu-Gamka, Merweville, Laingsburg, Sutherland, Prins Albert, Ladysmith, Napier, en landelike boerderygemeenskappe van Wolwengat tot Pearly Beach.
# Die president van Namibië se Boubedryffederasie, Nico Badenhorst, het sy meegevoel aan die familie van die ontslape Namibiese president, Hage Geingob, oorgedra. Badenhorst het Geingob geloof dat hy Namibië deur die moeilike ekonomiese tye kon stuur, maar terselfdertyd kon toesien daar is vrede in die land. Hy het gevra die ontslape president se verbintenis tot ekonomiese beginsels en die verwerkliking van ekonomiese geleenthede gedurende sy ampstermyn, moet geëer word:
# Sokker: President Cyril Rmamaphosa is vol lof vir Bafana Bafana en hulle prestasie om die halfeindstryd van die Afrikabeker-toernooi te haal. Bafana het hulle plek bespreek deur die Kaap Verdiese Eilande met 2-1 op strafdoele te klop, na ‘n doellose gelykop uitslag. Dis hulle eerste verskyning in die halfeindstryd van die kompetisie in 24 jaar. Ramaphosa het die span sterkte toegewens vir hulle kragmeting Woensdag teen die Super Eagles van Nigerië:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-157-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-98-sent per vat.
# Ten slotte: Die driedubbelle Grammy-wenner, Killer Mike is kort ná gisteraand se prysuitdeling by die Crypto.Com Arena deur die Los Angeles-polisie in hegtenis geneem. Die kletsrymer, wie se regte naam Michael Render is, het pas die gesogte toekennings gewen vir beste rap-album vir Michael, en die beste rap-liedjie en beste vertoning vir Scientists & Engineers. Die 48-jarige kunstenaar is glo aangehou weens ‘n woordewisseling op die perseel, en is later van wangedrag aangekla. Hy is daarna vrygelaat, maar moet later hierdie maand in die hof verskyn.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….