Nuus 16:00
BULLETIN 25 August 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê beter projek-voorbereiding kan vinniger infrastruktuur-belegging ontsluit
# President Kagame ontken dat Rwanda die oorsaak van die DRK-konflik is
# En padwedlope: Die Comrades-wenners Steyn en Kusche slaag opkikkertoetse en ‘n uitbetaling is bevestig
# President Cyril Ramaphosa sê beter voorbereiding van infrastruktuur-projekte kan Suid-Afrika help om meer beleggings te lok en bouprojekte te versnel. Hy het die hoofrede aanlyn gelewer op die vyfde Volhoubare Infrastruktuur-ontwikkelingsimposium in Kaapstad. Ramaphosa sê te veel projekte word vertraag omdat dit nie behoorlik voorberei of befonds is nie. Hy sê sterker beplanning en projek-voorbereiding kan belegging lok, werk skep, ekonomiese groei steun en basiese dienste verbeter:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê haar departement het reeds bykans 500-miljoen-rand uitbetaal in vergoedingsbetalings wat met die Waarheids- en Versoeningskommissie verband hou. Sy het aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê regulasies is in 2003 gepubliseer vir ‘n eenmalige toelaag van 30-duisend-rand en meer as een-duisend-600 slagoffers is geïdentifiseer om dit te ontvang. Sy sê teen 20 Augustus het 17-duisend-560 uit 21-duisend-676 slagoffers aansoek gedoen en is intussen betaal. Sy sê die name van vier-duisend-216 mense wat nog nie aansoek gedoen het nie, is gepubliseer.
# Die Appèlhof in Bloemfontein hoor tans die regering se appèlaansoek aan teen ‘n Hooggeregshof-uitspraak oor die maatskaplike noodverligtings-toelaag van 370-rand. Die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid en PayTheGrants, wat deur die Instituut vir Maatskaplik-ekonomiese Regte verteenwoordig word, voer aan die huidige aansoekvereistes sluit baie mense uit wat die toelaag dringend benodig. Die navorser Siyanda Baduza sê die hofsaak ondersoek ook die geskiktheidsdrempel, wat volgens hom te laag is en kwesbare begunstigdes uitsluit:
Nuus uit die buiteland:
# Die Rwandese president, Paul Kagame, ontken sy land is verantwoordelik vir die konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê die probleme is geskep deur Kinshasa en ander faktore. Kagame beskuldig naamlose partye dat hulle Rwanda ‘n sondebok maak om sekere individue te beskerm. Hy hou vol Rwanda word onregverdig uitgekryt as die oorsaak van die onbestendigheid in Sentraal-Afrika:
# Padwedlope: Die Comrades-marathon-vereniging sê alle opkikkertoetse in vanjaar se wedloop was negatief. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Opkikkervrye Sport het bevestig geen van die getoetste atlete het positief getoets nie, wat die weg baan dat die agt-miljoen-rand se prysgeld uitbetaal kan word. Gouemedaljes sal aan die voorste tien mans- en vroue-atlete uitgedeel word. Die wenners, Gerda Steyn en George Kushe, wat albei die rekords vir die op-wedloop verbeter het, kry elk meer as 2,3-miljoen-rand, insluitend bonusse vir hulle tye.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-954-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-633-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….