Nuus 16:00
BULLETIN 16 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema is op waarskuwing vrygelaat hangende sy appélproses teen sy vyf jaar tronkstraf
# Minister Kubayi sê daar is ‘n groot getal hofsake oor vuurwapens, maar die skuldigbevindings is min
# En rugby: Scarra begin en eindig sy senior loopbaan in Kaapstad
# Die leier van die EFF, Julius Malema, is op waarskuwing vrygelaat in die Landdroshof in KuGompo City in the Oos-Kaap hangend sy appèlaansoek, wat binne 21-dae ingedien moet word. Hy is vandag vyf-jaar tronkstraf opgelê. Malema se regsverteenwoordiger, Laurence Hodes, het bevestig sy kliënt sal voldoen aan alle voorwaardes sedert hy in 2019 borgtog toegestaan is. Landdros Twanet Olivier sê Malema se status bly onveranderd tot die appèlproses afgehandel is:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het bekendgemaak dat Suid-Afrikaanse howe die afgelope twee jaar meer as tien-duisend sake van onwettige vuurwapenbesit aangeteken het. Sy het aan die Parlement gesê 10-duisend-315-sake is aangeteken, maar meer as die helfte is teruggetrek, met 101 vrysprake en een-duisend-671 skuldigbevindings. Kubayi het op Glynnis Breytenbach van die DA se vrae oor vuurwapenvervolgings en saakuitkomste geantwoord die Nasionale Vervolgingsgesag teken nie dossiere per misdaad aan nie, wat die beskikbaarheid van volledige polisie-verwysingsdata beperk.
# Die Vryheidsfront Plus sê weens die kommerwekkende agteruitgang in bekwaamheid en swak prestasie, is dit hoog tyd vir ‘n omvattende vaardigheidsondersoek van die Johannesburgse metrobestuur. Volgens die jongste kwartaalverslag van die stadsbestuurder, Floyd Brink, het sewe van die 22 bestuurders nie hul vorderingsteikens bereik nie. Franco de Lange van die VF Plus sê hierdie getalle is bloot ‘n simptoom van ‘n sistemiese tekort aan die nodige vaardighede in middelbestuur en op tegniese gebied:
# Minstens 15 mense is verlede nag dood en meer as 90 gewond in ‘n reeks Russiese hommeltuig- en missielaanvalle in Oekraïne. ‘n Vyfjarige en ‘n 12-jarige seun is onder die slagoffers. Die aanvalle volg ná ‘n kort skietstilstand tydens Ortodokse Paasfeesvierings oor die naweek. Kiëf se Lugmag sê hulle het 31 Russiese missiele en 636 hommeltuie afgeweer. Die minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, sê sulke aanvalle kan nie as normaal beskou word nie, want dit is oorlogsmisdade wat gestaak moet word en skuldiges moet aanspreeklik gehou word.
# Rugby: Die Stormers-haker Scarra Ntubeni gaan sy beroepsloopbaan by dieselfde klub afsluit waar dit 15-jaar gelede begin het. Die 35-jarige sal na verwagting Saterdag sy laaste wedstryd vir die Kaapstadse span speel in die tuis-Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die Ierse span Connacht. Ntubeni is steeds gekontrakteer vir die res van die seisoen, maar sê hy en afrigter John Dobson het ooreengekom dis tyd om af te skaal. Hy het sy senior loopbaan in 2011 by Westelike Provinsie en die Stormers begin en in 2019 een toets vir die Springbokke gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-771-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-817-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….