Nuus 16:00
BULLETIN 13 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vervolgings kom uiteindelik in die Life Esidimeni‑sterftes ná jare se vertragings
# Die Regterlike Dienskommissie voer onderhoude om sleutelvakatures in howe te vul
# En gholf: Schwartzel verdien steeds 850-duisend-rand al eindig hy laaste in die Amerikaanse Meesterstoernooi
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hy sal diegene vervolg wat by die Life Esidimeni-tragedie betrokke was. Dit volg byna ‘n dekade nadat minstens 141 psigiatriese pasiënte dood is toe hulle tussen 2015 en 2016 vanaf behoorlike gesondheidsgeriewe na ongeregistreerde nie-regeringsorganisasies verskuif is. Die NVG se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die besluit volg op bevindings van ‘n geregtelike doodsondersoek dat verskeie sterftes veroorsaak is deur nalatigheid en ingewortelde mislukkings binne die Gautengse Gesondheidsdepartement.
# Die Regterlike Dienskommissie voer van vandag tot Vrydag onderhoude in Johannesburg om 15 vakatures in hoër howe te vul. Een-en-dertig kandidate word oorweeg vir die Appèlhof, die Grondhof en belangrike leierskapsposisies. Daar is groot belangstelling in môre se onderhoud met adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba vir die pos van regterpresident van die Gautengse Hooggeregshof. Judges Matter sê die proses het ten doel om vakatures te vul om vertragings met uitsprake uit te skakel.
# Forum for South Africa sê die Grensbestuursowerheid se verslag oor sy Paastyd-optredes is misleidend en buite voeling met die werklikheid. Die owerheid sê verskerpte maatreëls het gelei tot ‘n daling van 24-persent in onwettige kruisings. Vier-duisend-763 reisigers is voorgekeer terwyl hulle probeer het om Suid-Afrika onwettig binne te kom of te verlaat. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê grensposte soos Beitbrug, Lebombo en Maseru-brug het steeds reuse-toenames in beweging aangemeld:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, moedig alle belanghebbers aan om voortgesette pogings te ondersteun wat die onwettige uitbuiting van Suid-Afrika se marienebronne probeer beveg. Dit volg nadat nege mense aangekeer is toe hulle na bewering marienebronne in die Robbeneiland-beskermingsgebied in Kaapstad wou oes. Aucamp sê sy departement werk saam met die betrokke owerhede om operasies te versterk en die beskerming en volhoubaarheid van mariene-bioverskeidenheid te verseker:
# Gholf: Die enigste Suid-Afrikaner wat die eerste twee rondes van die naweek se Amerikaanse Meesterstoernooi oorleef het, Charl Schwartzel, het Augusta nie met leë hande verlaat nie al was hy heel laaste in die vierde ronde. Hy het klaargemaak op 12-onder-syfer, 24 houe agter die kampioen, Rory McIlroy van Noord-Ierland. Die 41-jarige Schwartzel, wat die toernooi in 2011 gewen het, het steeds prysgeld van 850-duisend-rand verdien, terwyl McIlroy 74-miljoen-rand ingepalm het. Die enigste ander Suid-Afrikaners wat Donderdag afgeslaan het, Aldrich Potgieter en Casey Jarvic, het halfpad uitgeval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-940-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-707-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….