Nuus 16:00
BULLETIN 10 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ndimande-broers laat vaar hul borgtogaansoek in die AKA-moordsaak
# Die Europese Unie stel sy opgeknapte grensbeveiligingstelsel bekend
# En rugby: Tien nuwelinge word genooi na die Springbok-vroue se belyningskamp
# Die Ndimande-broers, Siyabonga en Malusi, het hul borgtog-aansoeke teruggetrek in die moordsaak van Kiernan “AKA” Forbes en sy vriend Tebello “Tibs” Motsoane. Hulle het vandag weer in die Landdroshof in Durban verskyn, waar die saak tot volgende Vrydag uitgestel is. Die broers is onder sewe beskuldigdes wat verbind word met die moorde voor ‘n Durbanse restaurant in 2023. Hulle is in November ná ‘n langdurige regsgeding uitgelewer uit Eswatini, en die saak beweeg nou nader aan ‘n verhoordatum.
# Forum for South Africa is bekommerd oor sowat 110-duisend onwettige immigrante wat die afgelope twee boekjare uit die land gedeporteer is. Die Departement van Binnelandse Sake sê deportasies het in hierdie tydperk met ‘n gesamentlike 46-persent toegeneem. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die regering het toegelaat dat onwettige immigrasie tot krisisvlakke uitbrei:
Nuus uit die buiteland:
# Die Europese Unie het sy nuwe Toegangs/Uitgangs-stelsel amptelik bekendgestel, ‘n reuse-digitale grensbeveiligings-opknapping waarin tradisionele handmatige paspoort-stempelwerk vervang word met ‘n biometriese databasis. Die stelsel is ten volle in bedryf by alle eksterne grensoorgangspunte van die deelnemende 29 Europese lande. Reisigers moet dus biometriese data gebruik om deur grense na ‘n Schengen-gebied te reis. Die EU se kommissaris vir Binnelandse Sake en Migrasie, Magnus Brunner, sê die stelsel maak dit moeiliker vir misdadigers, terroriste en spioene om vals paspoorte te gebruik.
# Rugby: Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, het 10 nuwe spelers na die eerste belyningskamp van 2026 genooi, met 34 spelers wat van Maandag tot die 24ste in Stellenbosch sal byeenkom. Die Bok-vroue sal einde Mei in die Afrika-vrouebeker speel voor hulle die gasvroue is vir Amerika in twee toetse in Julie, en die Black Ferns van Nieu-Seeland in September. Veertien toetse word vir vanjaar beplan. De Bruin sê die fokus is om die nuwe spelers in ooreenstemming te bring met die gevestigde spelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-137-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-761-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die Paastyd weerspieël die mag van verbruikersbesteding om sakegroei in Suid-Afrika te bevorder, nadat debietkaartbesteding met 24-persent toegeneem het. Die afgelope Paastyd het die transaksiewaardes by verkooppunte op ‘n jaargrondslag met 18,82-persent gestyg en transaksie-volumes het met 19,87-persent toegeneem. Norman Nyawo van Standard Bank sê die sektore wat die grootste omset gehad het, was voedsel- en geriefswinkels, vermaak, ysterwarewinkels en restaurante:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….