Nuus 16:00
BULLETIN 1 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DJ Warras-moordsaak is tot Mei uitgestel vir die voltooiing van ondersoeke
# ‘n Parlementêre komitee spreek drie ministers en twee LP’s vry van oortredings
# En rugby: ‘n Springbok-stut mag steeds vir die Leeus speel terwyl hy wag op die uitslag van sy opkikker-verhoor
# Die saak teen die vermeende moordenaars van Warrick “DJ Warras” Stock is in die Landdroshof in Johannesburg tot 27 Mei uitgestel. Armindo Joaquim Pacula en Victor Majola bly in aanhouding. Stock is in Desember in die Johannesburgse middestad doodgeskiet. Majola is voorheen borgtog geweier, en die polisie gaan voort met die ondersoek na die beweerde beplanning en uitvoering van die moord. Staatsaanklaer Vincent Mochabela sê die ondersoek is nog onvolledig:
# Die Parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange het klagtes teen drie kabinetsministers en twee parlementslede teruggetrek en bevind dat dit ongegrond is of buite sy jurisdiksie val. Klagtes wat verlede jaar ingedien is, het beweerde wangedrag in amptelike pligte, prosedurele oortredings en partypolitieke verklarings ingesluit. Die komitee se woordvoerder, Malatswa Molepo, sê ministers Velenkosini Hlabisa, Gayton McKenzie en John Steenhuisen en LP’s Carol Phiri en Oscar Matafa is almal onskuldig bevind. Hy sê die komitee het geen bewyse van onetiese gedrag gevind nie.
# Limpopo se LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Violet Mathye, vra padgebruikers om veiligheid voorop te stel tydens die Paasfees-reistydperk en waarsku oor die verhoogde gevaar van ongelukke oor vakansiedae. Woordvoerder Tshifhiwa Dali beklemtoon hoe belangrik dit is om verkeersreëls te gehoorsaam, nie onder die invloed te bestuur nie en waaksaam te bly. Hy vra motoriste en voetgangers om verantwoordelik op te tree om ‘n veilige Paastyd vir almal te verseker:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Amerikaanse regter het gelas president Donald Trump kan nie sy beplande balsaal van 6,7-miljard-rand op die terrein van die Withuis se gesloopte Oosvleuel bou sonder goedkeuring van die Kongres nie. Distriksregter Richard Leon het die Nasionale Trust vir Geskiedkundige Bewaring se versoek om ‘n voorlopige interdik toegestaan. Die organisasie beweer Trump het sy gesag oorskry toe hy die geskiedkundige Oosvleuel gesloop en met bouwerk begin het. Die regter sê die bouwerk moet gestaak word tensy en totdat die Kongres die projek deur statutêre magtiging toelaat.
# Rugby: Die Springbok-stut Asenathi Ntlabakanye mag steeds vir die Leeus speel terwyl hy wag op die uitslag van sy opkikker-verhoor. Die uitslag is tot die einde van die maand uitgestel nadat hy in Augustus verlede jaar ‘n opkikkertoets gedruip het. Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Opkikker-vrye Sport, Khalid Galant, het bevestig Ntlabakanye is nie voorlopig geskors nie. Ntlabakanye het egter gevra om verskoon te word van die Leeus se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Dragons verlede naweek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-725-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….