Nuus 16:00
BULLETIN 31 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die petrolprys styg met meer as drie-rand en die dieselprys met sewe-rand in die jongste prysverhoging
# Ferroglobe waarsku oor die sluiting van sy smeltoonde weens kragkoste
# En Olimpiese Spele: Algemene kaartjieverkope vir die LA28 begin op die 9de April
# Petrol- en dieselpryse sal vanaf môre skerp styg, met 93-oktaan en 95-oktaan petrol wat albei met drie-rand-ses sent per liter styg, terwyl dieselpryse met meer as sewe-rand per liter styg. Lampolie styg met elf-rand-67 sent per liter en vloeibare petroleumgas met een-rand-agt-sent per kilogram. Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, sê die verhogings word aangevuur deur hoër wêreldwye oliepryse, ‘n swakker rand en voortdurende spanning in die Midde-Ooste.
# Die internasionale vervaardiger Ferroglobe sê sonder ‘n verligting in elektrisiteitstariewe kan hy sy Suid-Afrikaanse bedrywighede teen môre staak. Die firma, met smeltoonde in Polokwane, Limpopo en Mpumalanga, skep werk vir talle mense en ondersteun duisende ander werksgeleenthede. Gesprekke met Eskom oor verlaagde tariewe bly onopgelos. Die waarskuwing volg te midde van meer bedryfsdruk, met vakbonde wat bekommerd is oor moontlike werkverliese weens stygende energiekoste.
# President Cyril Ramaphosa het herbevestig Suid-Afrika is ‘n mark wat geskik is vir belegging. Hy het op die beleggingskonferensie in Johannesburg gesê die land fokus op belangrike sektore, insluitend vervaardiging, mynbou, landbou en digitale infrastruktuur. Ramaphosa voeg by strukturele hervormings vergemaklik dit om sake te doen. Hy het ook die twee pilare van strukturele hervorming en beleidsreaksie uitgelig, insluitend ‘n noodsaaklike bousteen om die land se visum-uitdagings op te los:
# Die GOOD-party in Tshwane sê die 2026/27-konsepbegroting wys die veelparty-koalisieregering kom sy belofte na om die metro weer finansieel volhoubaar te maak. Die metro sê hy het ‘n bedryfsinkomste van 57,1-miljard-rand vir volgende jaar wat 6,9-persent meer is as die 2025/26-aanpassingsbegroting. GOOD-woordvoerder Sarah Mabotsa sê Tshwane het geskiedkundige skuld afbetaal en terselfdertyd ʼn ten volle befondsde begroting opgestel:
# Olimpiese Spele: Kaartjieverkope vir 2028 se Spele in Los Angeles, Amerika, open volgende Donderdag vir die algemene publiek. Dit word voorafgegaan deur ‘n voorverkoping vir inwoners van L-A en Oklahoma City. Die organiseerders sê ‘n miljoen van die goedkoopste kaartjies sal beskikbaar wees teen 478-rand, ongeveer vyf-persent van die kaartjies sal meer as 17-duisend rand kos, en ander pryse wissel tussen drie-duisend-400- en ses-duisend-800-rand. ‘n Gemagtigde program vir herverkope sal volgende jaar open.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-582-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-577-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….