Nuus 16:00
BULLETIN 26 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ouditeur-generaal waarsku oor die stadige tempo van regeringsverbetering
# Die DA dagvaar Johannesburg oor 10-miljard-rand se politieke uitbetalings
# En krieket: Kohli, Suryavanshi gaan die IPL aan die brand kolf, terwyl mense wat in die stormloop dood is herdenk word
# Die ouditeur-generaal Tsakani Maluleke sê die verbetering van regeringsprestasie vorder te stadig. Sy het met die voorlegging van die 2024/25-verslag verwys na ‘n gaping tussen verbintenisse en lewering en leiers en instellings tot groter dringendheid aangespoor. Maluleke sê alhoewel daar wel winste is, word aanbevelings te stadig in werking gestel. Sy het gewaarsku swak verkrygingspraktyke verhoog die risiko van misdaad, en beklemtoon konsekwente, vinniger optrede is nodig om aanspreeklikheid en dienslewering te versterk:
# Die DA het ‘n dringende interdik by die hof ingedien om wat hy noem ‘n polities-gefasiliteerde ooreenkoms van tien-miljard- rand tussen die Stad Johannesburg en die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie te stop. Helen Zille van die DA sê die ooreenkoms, wat SAMWU-lede bevoordeel ten koste van noodsaaklike dienste, het behoorlike raadsprosesse omseil en is onwettig. Sy waarsku met Johannesburg reeds in ‘n finansiële krisis, kan die ooreenkoms water-, elektrisiteits- en diensleweringsbegrotings verder bedreig:
# Die bendegeweld-krisis in Kaapstad vererger, met nuwe massaskieterye in Khayelitsha. Binne een dag is ten minste drie mense dood en verskeie beseer, wat die stad se moordsyfer die maand tot meer as 30 te staan bring. Twee jong mans is dood in die Taiwan-informele nedersetting en een persoon is dood en twee beseer tydens ‘n afsonderlike voorval in ‘n spaza-winkel. ‘n Polisiewoordvoerder Wesley Twigg sê die omstandighede rondom die voorvalle word ondersoek terwyl hulle wag vir die SANW-ontplooiing volgende week.
# Die voormalige president van Venezuela, Nicolas Maduro, probeer vandag ‘n federale regter oortuig dat die Amerikaanse regering inmeng met sy vermoë om homself te verdedig. Maduro se prokureur, Barry Pollack, het verlede maand gesê die regering van Venezuela word nie toegelaat om sy regskoste betaal nie. Hy het gesê ‘n lisensie wat dit toelaat, is aanvanklik toegestaan en toe herroep. Pollack meen dit skend Maduro se grondwetlike reg om homself teen die aanklagte te verdedig. Maduro en sy vrou is vroeg in Januarie in Caracas gevange geneem en het onskuldig gepleit op vuurwapen- en dwelmverwante aanklagte.
# Krieket: Die Indiese Premierliga begin Saterdag, maar met somber herinneringe aan die 11 toeskouers wat in ‘n stormloop dood is toe Virat Kohli en die Royal Challengers se oorwinning in die vorige seisoen gevier is. Spelers sal Saterdag met die openingswedstryd swart armbande dra. Alhoewel hy nie meer vir sy land in toetse en T20-internasionale wedstryde speel nie, het Kohli verlede jaar die Royal Challengers na hul eerste IPL-oorwinning gelei, en hy sal dit graag weer wil doen. Die kollig sal ook op die tiener-kolfsensasie Vaibhav Suryavanshi wees. Hy word Vrydag 15 en sal is ‘n openingskolwer vir die Rajasthan Royals.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-216-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-437-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….