Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake kondig bykomende ure aan vir kieser-registrasie
# Die Veelpartyhandves moedig kiesersregistrasie aan
# En, rugby: Engelse Premierligaklubs kan binnekort Saoedi-eienaars hê
# Die Departement van Binnelandse Sake se kantoorure word môre verleng tot 6-uur die middag in ‘n poging om deelname aan die komende verkiesing te vergemaklik. Hierdie naweek sal kantore van 8-uur die oggend tot 5-uur die middag oop wees. Hierdie stap is om die kiesersregistrasienaweek te ondersteun. Jongmense word aangemoedig om die geleentheid vir identiteitsdokument-aansoeke of die afhaal daarvan te gebruik. Die woordvoerder, Siya Qoza, sê kliënte kan afsprake via die tak-afspraakstelsel bespreek of opdaag sonder ‘n afspraak:
Elf partye betrokke by die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika het intussen ‘n gesamentlike registrasiegeleentheid by die Johannesburgse stadsaal gereël, waar stemgeregtigde kiesers aangemoedig is om deel te neem aan die registrasienaweek. Die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, het die belangrikheid van die oefening beklemtoon, sodat Suid-Afrikaners hul demokratiese reg kan uitoefen en stem vir verandering. Hlabisa beklemtoon die krag wat die skep van ‘n beter toekoms inhou, gegrond op die Veelpartyhandves se visie van ‘n regverdige, inklusiewe en welvarende Suid-Afrika:
# Die African Transformation Movement beskuldig die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, van diskriminasie teen plaaslike swart akademici in Suid-Afrikaanse universiteite. Die party se president, Vuyo Zungula, bevraagteken in ‘n brief aan Nzimande die uitsluitings en beweer hulle kry minderwaardige posisies ondanks die feit dat hulle hoogs gekwalifiseerd is. Zungula beklemtoon die voorkeur vir buitelandse swart akademici bo plaaslike mense as ‘n uitdaging. Hy doen ‘n beroep op universiteite om die indiensneming van gekwalifiseerde swart Suid-Afrikaners voorop te stel om werkloosheid te verminder.
# Rugby: Beleggers uit Saoedi-Arabië onderhandel glo om ‘n belang te bekom in die top Engelse klubs, Leicester Tigers, Gloucester, Northampton Saints en Newcastle Falcons. The Telegraph berig Saoedi-beleggers wil miljoene pond in die vier Premierligaspanne inpomp. Die Springbok-Wêreldbeker-wenners Handré Pollard en Jasper Wiese speel tans vir Leicester en is boaan die lys van ‘n sterk groep Suid-Afrikaners, waaronder Ruan Ackermann, Juarno Augustus, Burger Odendaal en Philip van der Walt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-110-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-10-sent per vat.
# Ten slotte: Die polisie in Kanada ondersoek die vreemde diefstal van ‘n taksidermie-ysbeer wat sowat 225-kilogram weeg by ‘n oord naby Edmonton. Die beer, wat sowat 3,6-meter hoog is, is vermoedelik gesteel tydens die koue weer vroeg in Januarie, toe temperature tot byna minus-30 gedaal het. Die personeel van die Lily Lake-oord het dit op 22 Januarie as gesteel aangemeld. Die publiek is gevra om op die uitkyk te wees vir die reuse opgestopte dier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….