Nuus 16:00
BULLETIN 21 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG trek aanklagte terug teen Dumisani Khumalo en sy medebeskuldigdes
# Rugby: Rea Vaya bied spesiale busdienste aan vir die toets tussen die Springbokke en die All Blacks
# En Meghan Markle kan moontlik na toneelspel terugkeer as sy en Harry terug is in Brittanje
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het aanklagte van bedrog en korrupsie teruggetrek teen die hoof van die Polisie se Misdaadintelligensie-eenheid, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, brigadier Dineo Mokwele en hul medebeskuldigdes. Die besluit in die Pretoriase Landdroshof volg op ‘n hersiening deur die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, nadat die Madlanga-kommissie gehoor het die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se ondersoek was onvolledig en Mokwele is gekwalifiseerd vir haar tegniese ondersteuningsrol. Khumalo verwelkom die terugtrekking:
# President Cyril Ramaphosa sê verhoogde infrastruktuur-belegging is die sleutel tot die groei van die ekonomieë van Suid-Afrika en Zimbabwe en die uitbreiding van wederkerige handel. Ramaphosa het op die vierde Suid-Afrika-Zimbabwe-bi-nasionale kommissie in Pretoria gevra vir gesamentlike belegging in paaie, brûe, damme, lughawens, skole en gesondheids-instellings, asook nouer samewerking in mynbou, energie, water en landbou, en werkskepping. Hy benadruk skoon energie, gedeelde water-projekte en verhoogde landbouproduksie om voedselsekerheid te versterk:
Nuus uit die buiteland:
# Vyf mense word vermis nadat ‘n brand ‘n gebou verwoes het in die dorp Thusis in die Switserse Alpe. Dit het kort na middernag uitgebreek in ‘n gebou wat ‘n restaurant en woonstelle huisves. Agt mense is beseer, terwyl 14 mense ontsnap het. Ongeveer 100 brandbestryders is ontplooi en reddingspanne deursoek steeds die gebou. Die polisie sê die trap het ingetuimel weens die brand, en spanne moes ‘n hyskraan gebruik om op die dak te kom. Owerhede en aanklaers ondersoek die oorsaak van die brand.
# Rugby: Rea Vaya gaan spesiale busdienste aanbied vir toeskouers wat môre die Springbokke se toets teen die All Blacks op Ellispark in Johannesburg bywoon. Geleentheidsbusse sal van een-uur af op verskeie roetes na die stadion beweeg, met terugkeerdienste wat elke vyf minute na die wedstryd sal vertrek tot 8-uur die aand. Ondersteuners word aangemoedig om hul reise vooraf te beplan, openbare vervoer te gebruik en genoeg geld op hul Rea Vaya-kaarte te laai vir albei ritte.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-639-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-577-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-35-sent per vat.
# En laastens: Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, kan volgens berigte moontlik weer met toneelspel begin as sy en prins Harry na Brittanje terugkeer. Meghan het uitgetree toe hulle in 2018 getroud is en nadat sy reeds internasionaal bekend geword het vir haar rol in die regs-drama Suits. Sy is sedertdien weer te sien in haar Netflix-leefstylreeks, maar het nog nie ‘n ander rol aanvaar nie. Daar word bespiegel dat sy ‘n terugkeer kan oorweeg as die egpaar meer tyd in Brittanje deurbring, hoewel geen projek nog bevestig is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….