Nuus 16:00
BULLETIN 17 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal se polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi verseker ‘n tweede termyn
# Die DA sê Gauteng se data-inbraak lê die mislukking van premier Lesufi se administrasie bloot
# En rugby: Eddie Jones sê dit sal ‘n fout wees om Borthwick af te dank voor die Wêreldbekertoernooi
# KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, is aangestel vir ‘n tweede vyfjaartermyn. Premier Thami Ntuli onderskryf die verlenging ná raadpleging met die nasionale kommissaris, Fannie Masemola. Mkhwanazi, wat sedert 2021 die posisie beklee, word erken vir die bekamping van georganiseerde misdaad en korrupsie. Ntuli sê die hernuwing dui op vertroue in sy leierskap terwyl die provinsie voortgaan met pogings om die hoë vlakke van gewelds- en georganiseerde misdaad te verminder.
Masemola het intussen aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê hy het tydens ‘n hoëvlakvergadering die redenasie rondom die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde bevraagteken. Hy sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het nie duidelike redes verskaf nie, ondanks kommer van senior amptenare. Masemola voeg by meningsverskille het ontstaan of dit ‘n werklike ontbinding of slegs ‘n herstruktureringsproses was, met lede wat moontlik verskuif sal word:
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se regering het versuim om voorkeur te gee aan die opgradering van sy digitale infrastruktuur. Hy sê ‘n data-lekkasie laat ernstige vrae ontstaan oor die provinsie se vermoë om sensitiewe inligting en kritieke digitale infrastruktuur te beskerm wat provinsiale departemente gebruik. Michael Waters van die DA sê die data-lekkasie het plaasgevind ondanks herhaalde waarskuwings oor die verslegtende toestand van die digitale infrastruktuur:
# Business Leadership South Africa sê munisipaliteite soos Johannesburg in Gauteng en eThekwini in KwaZulu-Natal verloor tot die helfte van hul water weens lekkasies as gevolg van wanbestuur, wat ondernemings en dienste in gevaar stel. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief politiek in ‘n verkiesingsjaar vererger die probleem, met amptenare wat korttermynwinste bo instandhouding stel. Mavuso het die regering, media, burgers en sake-ondernemings gevra om waaksaam te bly om verdere agteruitgang te voorkom, betroubare dienste te verseker en die ekonomie te beskerm.
# Rugby: ‘n Gewese afrigter van Engeland, Eddie Jones, glo dit sal ‘n reuse-fout wees om Steve Borthwick af te dank voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Borthwick het die span geneem na 12 agtereenvolgende oorwinnings aan die begin van die Sesnasies, maar dis opgevolg deur vier agtereenvolgende nederlae. Hy was Jones se hulpafrigter voor hy by hom oorgeneem het voor 2023 se Wêreldbekertoernooi. Jones sê Borthwick het ‘n paar foute gemaak tydens die Sesnasies, maar sy unie behoort hom te steun in plaas van af te dank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-71-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-15-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….