Nuus 16:00
BULLETIN 12 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in AfriForum se matriekuitslag-saak
# Christene betoog in Durban oor godsdiensvryheid
# En veiligheidsmaatreëls word verhoog vir die Oscars na ‘n waarskuwing oor ‘n moontlike Iranse hommeltuig-bedreiging
# Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou oor die Inligtingsreguleerder se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak wat toelaat dat matriekuitslae gepubliseer word. Die hof het voorheen bevind die gebruik van eksamennommers beskerm leerders se privaatheid en dien ook die openbare belang. Alana Bailey van AfriForum sê hulle hoop die langdurige saak, wat al meer as vier jaar aan die gang is, kan nou afgehandel word:
# Duisende Christene van reg oor KwaZulu-Natal het opgruk na die strate van Durban uit verset teen voorgestelde maatreëls wat volgens hulle kan lei tot die staat se regulering van kerke. Die betoging, gereël deur die South African Church Defenders, het in King Dinuzulu-park begin en na die stadsaal beweeg. Die organiseerders sê hulle verdedig grondwetlike godsdiensvryheid. ‘n Versoekskrif word aan die eThekwini-burgemeesterskantoor oorhandig word.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is bekommerd oor toenemende geopolitieke konflikte. Hy waarsku die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsraad se ministeriële vergadering in Pretoria dat toenemende ekonomiese wisselvalligheid, energie- en voedselsekerheidsgevare en klimaatverwante skokke die streek ontwrig. Lamola vra diplomasie om konflikte op te los, veral in die Midde-Ooste en die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy waarsku die toenemende skuldkrisis in Afrika bedreig maatskaplike besteding en ontwikkelingsvordering:
# Die Midde-Oosterse oorlog het veroorsaak dat veiligheidsmaatreëls verhoog is vir Sondag se Oscar-seremonie in Los Angeles, nadat die FBI ‘n waarskuwing uitgereik het oor ‘n moontlike Iranse hommeltuig-bedreiging gemik op die Amerikaanse Weskus. Die stad se Veiligheidsdepartement sê hulle is op ‘n verhoogde gereedheidsvlak en verhoogde waaksaamheid. Die organiseerders sê hulle werk nou saam met wetstoepassing om almal se veiligheid te verseker, maar fokus steeds daarop om te verseker die geleentheid behou sy glans.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging beplan om Bafana Bafana en Banyana Banyana se bonusse met tot 25-persent te sny weens ‘n tekort van 23-miljoen-rand. SAFA sê hy gaan nie meer sy eie fondse gebruik om spelers se bonusse aan te vul nie en uitbetalings word nou verbind met toernooie se prysgeld. Onder die voorgestelde struktuur kan spelers tussen 20- en 45-persent ontvang, afhangende van hoe ver spanne vorder. Die plan kan weerstand ontvang, aangesien spelers volgens berigte nie voor die voorstel geraadpleeg is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-373-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-174-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….