Nuus 16:00
BULLETIN 11 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verdedigingsadvokaat betwis bewerings dat Mugabe se seun en sy medebeskuldigde onwettig in Suid-Afrika is
# AfriForum bevraagteken die polisie se jongste veediefstal-statistieke
# En sokker: Gianni Infantino sê Trump het die versekering gegee dat Iran se span welkom is by die Wêreldbekertoernooi
# Die verdedigingsadvokaat, Sinenhlanhla Mnguni, sê bewerings dat die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matondze, onwettig in Suid-Afrika woon, is steeds nie bewys nie. Die twee staan tereg oor ‘n skietvoorval by hulle huis in Hydepark en het intussen hul borgtogaansoek laat vaar in die Landdroshof in Alexandra, Gauteng. Mnguni sê die staat se bewering is nog nie in die hof bewys nie:
# AfriForum is bekommerd oor die polisie se veediefstal-statistieke vir Oktober en Desember 2025 en sê dit skep ‘n verwronge beeld van die probleem. Die polisie het ‘n afname van 9,6-persent aangeteken, maar AfriForum sê eintlik het die gevalle effens gestyg tussen die tweede en derde kwartaal. Woordvoerder Hennie Bekker waarsku onder-aanmelding, ‘n gebrek aan hulpbronne en beweerde korrupsie in Veediefstal-eenhede vererger die krisis. Hy vra sterker eenhede en verbeterde teen-korrupsie-maatreëls:
# Veldwagters op patrollie in die Kingfisherspruit-gedeelte van die Krugerwildtuin in Mpumalanga het drie vermeende stropers raakgeloop. Een gewapende persoon is aangekeer terwyl die ander twee ontsnap het. JP Louw van SANParke sê ‘n dokter het die beseerde stroper op die toneel behandel voor hy na ‘n plaaslike hospitaal geneem is. Hy sê die polisie en die plaaslike misdaadondersoeksentrum het ‘n swaarkalibergeweer op die toneel gevind.
# Eskom het Eenheid 2 van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad geprys wat reeds 365 dae ononderbroke in werking is. Eskom se opwekkingsbestuurder, Bheki Nxumalo, sê die opgeknapte eenheid het ongeveer 946 megawatt bygevoeg op die nasionale netwerk met energiebeskikbaarheid van 99,4-persent. Hy sê hierdie mylpaal volg ná reuse- opknappings, insluitend nuwe stoom-transformators wat bygevoeg is om betroubaarheid en langtermyn-energie-sekerheid te verbeter.
# Sokker: Die president van die wêreldbeheerliggaam FIFA, Gianni Infantino, sê die Amerikaanse president, Donald Trump, het hom verseker Iran se span sal welkom wees tydens die Wêreldbekertoernooi wat Amerika saam met Kanada en Mexiko aanbied. Iran was nie teenwoordig tydens verlede week se beplanningsvergadering in Atlanta nie na Amerikaanse en Israelse aanvalle op die land. Infantino sê almal het ‘n geleentheid soos die Wêreldbekertoernooi nodig om mense bymekaar te bring, nou meer as ooit tevore. Die byeenkoms begin op 11 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-172-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-192-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….