Nuus 16:00
BULLETIN 6 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering hou brandstofvoorrade fyn dop te midde van internasionale olie-onstuimigheid
# Trump dank sy minister van Binnelandse Veiligheid af
# En rugby: Die laaste twee rondes van die Sesnasiesreeks begin vanaand in Dublin
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering hou internasionale oliepryse en brandstofvoorrade noukeurig dop namate spanning in die Midde-Ooste voortduur. Moneyweb berig die sluiting van die belangrikste olie-verskepingsroete, die seestraat van Hormuz, het pryse verder beïnvloed. Suid-Afrika kan dalk in April reuse-brandstofprysverhogings ervaar, met die moontlikheid van petrol- en dieselprysstygings van tussen twee- en vyf-rand per liter. Creecy sê egter brandstof- en stralerbrandstofvoorraad is tans bestendig.
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, sê dit wil voorkom of die beweerde dreigemente teen ‘n sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, geen duidelike feitelike basis het nie. Carrim se prokureur, Kameel Premhid, hou vol dis eg en is presies waarmee sy kliënt worstel terwyl hy voorberei om te getuig. Madlanga sê dit lyk asof die bewerings uit die bloute gekom het, sonder enige verduideliking oor ‘n moontlike bron:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het bevestig die regering het 1,4-miljard-rand voorsien om bek-en-klouseer te beveg, terwyl bykomende befondsing versoek is. Die regering betaal die inentings ten volle as deel van ‘n nasionale veldtog. Steenhuisen sê entstowwe wat vanaf Argentinië en Turkye verkry is, word reeds oor provinsies versprei. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die land beoog om teen Desember ongeveer 80-persent van vee in te ent:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die minister van Binnelandse Veiligheid, Kristi Noem, afgedank en verskuif na ‘n nuwe pos as spesiale gesant vir ‘n nuwe Amerikaanse veiligheidsprojek in die Westerse halfrond, die Skild van die Amerikas. Sy het onlangs onder skoot gekom oor haar reaksie op die noodlottige skietery van twee Amerikaanse burgers deur federale beamptes in Minneapolis. Trump het die senator van Oklahoma, Markwayne Mullin, aangewys as nuwe minister vanaf die einde van die maand. Sy aanstelling moet nog deur die Senaat bevestig word.
# Rugby: Die Sesnasies hervat vandag na ‘n week lange onderbreking, met Ierland wat Wallis vanaand in Dublin verwelkom. Môre sal Skotland en die verdedigende kampioen, Frankryk, in Edinburgh kragte meet, gevolg deur die botsing tussen Italië en Engeland op die Stadio Olimpico in Rome. Die onoorwonne Frankryk is bo-aan die punteleer met 15 punte voor die laaste twee rondes. Skotland is tweede met 11 punte en Ierland derde met nege. Engeland is vierde, Italië vyfde en Wallis soos gewoonlik laaste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-93-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-89-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….