Nuus 16:00
BULLETIN 3 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburg bevestig die onwettige gebou in Ormonde gaan gesloop word ná die instorting
# SALGA waarsku teen die sistemiese ineenstorting van plaaslike regering
# En sokker: Dis vandag 100-dae voor die Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika begin
# Die Stad Johannesburg gaan die gebou sloop wat gister in Ormonde ingestort het. Nege mense het gesterf toe die tweede verdieping ingetuimel het. Noodspanne het die laaste liggaam ‘n rukkie gelede onder die puin gevind. Burgemeester Dada Morero het die terrein vandag besoek en bevestig die stad het geen bouplanne goedgekeur nie, dus is die gebou onwettig opgerig. Hy sê die sloping sal voortgaan sodra die volledige beoordelings-verslag voltooi is:
# Die president van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging, Bheke Stofile, waarsku munisipale inkomstetekorte, stygende skuld en ondoeltreffende fakturering bedreig dienslewering en openbare vertroue. Raadslede moet daaglikse toesig afdwing, korrekte verslagdoening verseker, aanspreeklikheid handhaaf en beleide vir behoeftiges beskerm. Stofile beklemtoon afdwinging moet geïntegreerd, regverdig en gebalanseerd wees. Hy voeg by hierdie benadering is noodsaaklik om munisipale volhoubaarheid te handhaaf en die sistemiese ineenstorting van plaaslike regering in Suid-Afrika te voorkom:
# Die DA sê die Mangaung-munisipaliteit in die Vrystaat moet dringend optree om bek-en-klouseer te beheer. Die party het ‘n mosie ingedien waarin geëis word dat die munisipaliteit en die provinsiale regering gesamentlik die regsverantwoordelikheid moet aanvaar om uitbrekings te bestuur, biosekerheid af te dwing, veebewegings te beheer en te verhoed dat die siekte verder versprei. DA-woordvoerder Thomas Ferreira waarsku die gebrek aan optrede bedreig boere se inkomste, werk en voedselsekerheid:
# Sokker: Dit is vandag 100-dae voor die begin van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika. Die toernooi, met 48 spanne, word aangebied deur Kanada, Amerika en Mexiko, met 104 wedstryde in 16 stadions. Estadio Azteca in Mexiko-stad sal die eerste stadion word om drie openingswedstryde aan te bied wanneer Suid-Afrika en die mede-gasheer, Mexiko, die toernooi op 11 Junie afskop. Die eindstryd sal op 19 Julie in die MetLife-stadion in New Jersey in Amerika gespeel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-554-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-202-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die Grondwet is as ‘n lewende raamwerk geskep om te reageer op die immer-veranderende regs-, maatskaplike en politieke omgewing. Sy het die 30ste herdenking van die Grondwet gelei. Kubayi sê die verwagting dat hervorming voortduur en regte toenemend verwesenlik sal word, is in die struktuur van die Grondwet ingebou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….