Nuus 16:00
BULLETIN 27 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AgriSA versoek dringende biosekerheidsbefondsing om die groei van landbou te beskerm
# ‘n Ontwrigting van die Tafelbergse sweefspoor laat 200 toeriste oornag gestrand
# En sokker: Cristiano Ronaldo verkry ‘n 25-persent-aandeel in die Spaanse Vlak 2-span Almeria
# AgriSA waarsku onvoldoende strategiese belegging in biosekerheid in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se nasionale begroting, bedreig toekomstige groei en mededingendheid in die landbousektor. Die organisasie sê onlangse bek-en-klouseer-uitbrekings het groot swakhede in diere-gesondheidstelsels blootgelê wat uitvoere, landelike werksgeleenthede en voedselsekerheid in gevaar stel. AgriSA se uitvoerende hoof, Johann Kotzé, sê sterker befondsing en beter veeartsenykundige stelsels word benodig om uitbrekings te voorkom en die toekoms van landbou te beskerm.
# Bedrywighede by die Tafelbergse sweefspoor in Kaapstad is hervat nadat ‘n probleem met ‘n kabelkar byna 200 besoekers oornag gestrand gelaat het in koue en winderige toestande. Tegnici het deurnag gewerk om die fout reg te stel en personeel het komberse en warm drankies voorsien om besoekers gemaklik te hou. Teen vanoggend was die stelsel weer in werking en alle passasiers is veilig en sonder beserings afgebring.
# Steeds in die Moederstad: Die GOOD-party sê die Stad Kaapstad se verkoop van die Goeie Hoop-sentrum verteenwoordig nie waarde vir geld nie. Die ikoniese sentrum is op ‘n openbare veiling vir 135-miljoen-rand verkoop. Suzette Little van GOOD sê dit kom te staan op effektief 129,3-miljoen-rand wanneer onlangse opgraderings van 4,7-miljoen-rand in ag geneem word. Dis deur die publiek geborg. Sy sê waarde vir geld kan nie bepaal word uit ‘n enkele item op ‘n sigblad nie, maar moet gesien word as langtermyn openbare voordeel, geleentheidskoste en maatskaplike uitwerking:
# Sokker: Cristiano Ronaldo het ‘n 25-persent aandeel in die Spaanse Vlak 2-span Almeria verkry. Die Portugese voorspeler het nege jaar by die Spaanse reus Real Madrid deurgebring en is die klub se voorste doelskieter van alle tye. Hy het in Almeria belê deur sy onderneming, CR7 Sports. Almeria is twee jaar gelede uit LaLiga gerelegeer en verlede jaar deur die Saoedi-gebaseerde SMC-groep oorgeneem. Ronaldo sê die klub het ‘n sterk hoeksteen en ‘n duidelike vermoë om te groei en hy wil hierdie nuwe fase ondersteun.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-949-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Een van Suid-Afrika se bekendste publikasies, City Press, sluit amptelik sy deure, met Media24 wat ‘n raadplegingsproses vir bestaande personeel van stapel stuur. Media24 se uitvoerende hoof, Minette Ferreira, sê die raadpleging het vanoggend begin en gaan oor die sluiting van die nuuskantoor. Die publikasie, wat terugdateer tot 1982, is hoofsaaklik vir swart lesers gestig deur Jim Bailey en die South African Associated Newspapers. City Press was ‘n belangrike stem teen apartheid en Naspers het dit in 1984 bekom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….