Nuus 16:00
BULLETIN 26 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan stap uit die parlementêre ad hoc-komitee se verhore
# Ramaphosa vra ‘n sterker rol van tradisionele leiers in plaaslike regering
# En krieket: Die Proteas klop die Windies met nege paaltjies in Ahmedabad
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het uitgestap uit die verhore van die parlementêre ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek om ‘n vlug te haal. Komiteelede David Skosana en Julius Malema het sy vertrek bevraagteken terwyl sy ondervraging nog nie voltooi was nie. O’Sullivan sê hy het herhaaldelik gewaarsku hy moet vertrek. Voorsitter Soviet Lekganyane het bevestig die Parlement se regsraad sal die volgende stappe bespreek:
# President Cyril Ramaphosa sê dienslewerings-uitdagings, veral watertekorte, het ‘n negatiewe uitwerking op gemeenskappe onder tradisionele leiers. Hy het in die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers ‘n belegging van 156-miljard-rand oor drie jaar aangekondig vir water- en sanitasieprojekte landwyd. Ramaphosa bepleit gestruktureerde samewerking tussen munisipaliteite en tradisionele leierskap om plaaslike bestuur te verbeter en te verseker landelike gemeenskappe trek voordeel uit volhoubare infrastruktuur-ontwikkeling:
# Die DA sê die Stad Tshwane ondervind ernstige finansiële probleme, met ‘n tekort wat tot 5,3-miljard rand gestyg het onder die ANC-geleide koalisie. Die party waarsku terugwerkende salarisverhogings is belangriker geag as die herstel van water- en elektrisiteitsonderbrekings, en het 125-miljoen-rand oorbestee aan watertenkwaens, met ‘n begroting wat nie ten volle befonds is nie. Cilliers Brink van die DA sê die begrotings vir groot infrastruktuurprojekte kan besnoei word:
# Standard Bank sê die nasionale begroting het geteikende verligting vir klein- en mediumgrootte ondernemings gebring, insluitend ‘n beduidende verhoging in die registrasiedrempel vir belasting op toegevoegde waarde. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die verpligte BTW-registrasiedrempel vir ondernemings van een-miljoen- tot 2,3-miljoen-rand aangepas. Simone Cooper van Standard Bank sê belastingvrystelling vir kwallifiserende sake-ondernemings is ‘n welkome verligting.
# Krieket: Kaptein Aiden Markram het die Proteas tot ‘n oorwinning van nege paaltjies oor die Wes-Indiese Eilande gelei in hulle T20-Wêreldbeker-Super-agt-wedstryd in Ahmedabad. Die Windies het eerste gekolf en gesukkel na ‘n vinnige begin voordat Jason Holder en Romario Shepherd ‘n wêreldrekord-agstepaaltjie-vennootskap in T20-internasionale krieket van 91 opgebou het om hulle tot 176 vir agt te neem. Markram het daarna ‘n onoorwonne 82 van slegs 46 balle aangeteken, terwyl Quinton de Kock 47 bygedra het en Ryan Rickelton. Suid-Afrika het die teiken bereik met 23 balle oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-234-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-171-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….