Nuus 16:00
BULLETIN 24 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Brand ontstaan in die Kaapstadse Internasionale Lughawe
# Cosatu se Staatsdiensvakbonde gaan werkers help om na ander mediese fondse oor te skuif
# En krieket: Die Protea-vroue pak Australië in hul eerste T20-Wêreldbeker-wedstryd in Junie
# ‘n Brand het naby die internasionale saal van die Kaapstadse Internasionale Lughawe onstaan en ontruimings genoodsaak. Owerhede sê dele van die saal is ontruim terwyl brandbestryders die brand onder beheer gebring het. Die bedrywighede word steeds geraak met noodpersoneel wat op die perseel bly. Passasiers en personeel is na veiligheid verskuif en geen beserings is aangemeld nie. Ondersoeke na die oorsaak duur voort.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het twee brande in die Langeberge in die Wes-Kaap aangemeld. Een woed bo die Rooiberg-kelder naby Robertson en die ander een versprei vanaf Meulplaas langs die R62 na die Wynland- en die Overberg-gebied. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê brandweerspanne en plaaslike boere monitor en ondersteun pogings om die brande te beheer:
# ‘n Sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het bevestig hy is steeds ‘n agent vir misdaadintelligensie. Hy het op ‘n vraag van advokaat Maria Mokhaoetsi voor die parlementêre ad hoc-komitee geantwoord hy was eers ‘n spioen en het in 2009 ‘n agent geword. Mogotso verduidelik hy was nie amptelik op die rekords nie, want geheime registrasie en kontantbetalings het hom toegelaat om in die geheim belangrike inligting oor misdaadnetwerke en hoëprofielfigure te bekom:
# Cosatu se staatsdiensvakbonde sê hulle gaan ‘n proses bemiddel om staatsamptenare te help wat van mediese fonds wil verander. Dit volg op die mediese fonds vir staatsamptenare, GEMS, se besluit om lede se bydraes vanjaar met 9,8-persent te verhoog ná ʼn enorme verhoging van 13,4-persent verlede jaar. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die koste van mediese fondse styg ver bo salarisse en inflasie:
# Krieket: Die Protea-vrouespan begin hulle T20-Wêreldbeker-veldtog op 13 Junie teen Australië op Old Trafford in Manchester. Die gasvrou, Engeland, en Sri Lanka skop die verrigtinge die vorige dag af op Edgbaston in Birmingham. Suid-Afrika speel haar ander groepswedstryde teen Pakistan, Indië, Nederland en Bangladesj. Die 12 spanne speel in twee groepe, gevolg deur die uitklopfase. Wedstryde sal ook op Lord’s en die Oval in Londen plaasvind en in Bristol, op Headingley in Leeds, en die Rose Bowl in Southampton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-321-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-162-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….