Nuus 16:00
BULLETIN 20 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vermiste mynwerkers is vermoedelik dood ná ‘n modderstorting in die Ekapa-myn
# President Cyril Ramaphosa waarsku klimaatsverandering is ‘n bedreiging vir die mensdom
# En krieket: Australië se afrigter gee spelers die skuld vir die swak vertoning op die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, sê vyf mynwerkers wat vroeër die week vasgekeer is ná ‘n modderstorting in die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap, is vermoedelik dood. Reddingspogings duur voort, maar sal na verwagting langer neem weens water- en boorprobleme. Mantashe sal die gesinne toespreek en beskryf die voorval as ‘n moontlike ramp. Hy sê ‘n rekord 41 sterftes is verlede jaar in die mynbedryf aangeteken:
# President Cyril Ramaphosa sê klimaatsverandering hou ‘n werklike bedreiging vir die mensdom in. Hy het tydens die sitting van die Presidensiële Klimaatkommissie wêreldwye samewerking aangespoor om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk. Ramaphosa beklemtoon die noodsaaklikheid om uitstralings te verminder, infrastruktuur klimaatbestand te maak, kwesbare gemeenskappe te beskerm en werksgeleenthede te beveilig. Hy sê klimaats-optrede is in ooreenstemming met Suid-Afrika se ontwikkeling, groei en pogings teen armoede en ongelykheid:
# Die MK-party is bekommerd oor die regering se besluit om Suid-Afrika te onttrek aan die 61ste Venisiese Biënnale in Italië. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n onafhanklike kuratorspaneel se eenparige keuse verwerp om die werk Energy van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gabrielle Goliath in te skryf. Dit handel oor geslagsgeweld, vrouemoord en gesamentlike rou. MK sê staatsdepartemente voer administratiewe, regs- en befondsingsredes aan vir hul besluit, maar Suid-Afrikaanse kunstenaars moenie die slagoffers van burokratiese of interne twiste in die regering word nie.
Nuus uit die buiteland:
# Jeffrey Epstein se boedel sal tot 564-miljoen-rand betaal om ‘n groepsgeding van 2024 teen twee van sy raadgewers op te los. Volgens dokumente wat in ‘n federale hof in Manhattan ingedien is, word die twee daarvan beskuldig dat hulle Epstein bygestaan en aangemoedig het in sy sekshandel met jong vroue en tienermeisies. Indien ‘n regter dit goedkeur, sal die ooreenkoms ‘n einde bring aan die sake teen Epstein se voormalige persoonlike prokureur, Darren Indyke, en sy voormalige rekenmeester, Richard Kahn, wat mede-eksekuteurs van sy boedel is.
# Krieket: Australië se hoofafrigter, Andrew McDonald, gee sy spelers die skuld nadat die span in die groepsfase van die T20-Wêreldbekertoernooi uitgeskakel is. 2021 se kampioen het twee van hul eerste drie groepswedstryde verloor en keer huis toe na vandag se laaste een teen Oman in Pallekele, Sri Lanka. Oud-spelers en kenners beweer die span was nie behoorlik voorbereid nie en neem die formaat nie ernstig op nie. McDonald sê hoewel ‘n paar bewese wedstrydwenners nie kon speel nie, was die beskikbare spelers goed genoeg, maar het nie presteer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-12-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….