Nuus 16:00
BULLETIN 19 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voedselinflasie bereik die laagste vlak sedert 2010
# Kaapstad kondig die reëls en boetes vir verkiesingsplakkate aan
# En rugby: Peyper sê die skeidsregters vir die reeks teen die All Blacks is regverdig
# Suid-Afrika se voedselinflasie het tot sy laagste vlak sedert 2010 gedaal. Statistiek Suid-Afrika sê inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het verlede maand tot 0,9-persent afgeneem, danksy die laer pryse van vleis en graanprodukte. Sekere beesvleisprodukte, mieliemeel en witbrood het goedkoper geword. Woordvoerder Patrick Kelly sê pryse vir verwerkte vleis, vis, olies en suiwelprodukte het egter gestyg:
# Die energiereguleerder Nersa het ‘n spesiale elektrisiteitsprysooreenkoms van twee-jaar tussen Eskom en die Mangaanse Metaalmaatskappy in Mbombela, Mpumalanga, goedgekeur. Die ooreenkoms, wat strek tot Julie 2028, bied die onderneming ‘n spesiale basis-elektrisiteitstarief. Charles Hlebela van Nersa sê Eskom sal gereeld aan die reguleerder moet verslag doen oor die koste van die ooreenkoms, die onderneming se kragverbruik en die ekonomiese voordele:
# Die Stad Kaapstad sê politieke partye mag nou verkiesingsplakkate en baniere vertoon, 11 weke voor die plaaslike regeringsverkiesing. Partye mag een verkiesingsplakkaat en een plakkaat vir ‘n spesifieke geleentheid op elke lamppaal aanbring. Die plakkate moet op borde gemonteer wees en mag nie groter as 0,9- by 0,6-meter wees nie. Draaiende baniere mag net aan goedgekeurde pale aangebring word nadat ‘n gratis aansoek by die stad ingedien is. Die stad sê onwettige plakkate moet binne 48-uur verwyder word, anders sal dit verwyder en die party beboet word.
# Die menslike voorvaderlike oorskot van 84 Namibiërs word vandag na hul land gerepatrieer, insluitend twee voormalige politieke gevangenes wat op Robbeneiland aangehou is. Simon Petrus Niilenge en Festus Nehale is in ballingskap dood en in Kaapstadse begraafplase ter ruste gelê. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, in vennootskap met die Iziko Museums van Suid-Afrika en die Namibiese regering, het die seremonie in Kaapstad aangebied. Die regering sê die geleentheid sal kulturele herstel bevorder, waardigheid herstel en bydra tot die regstelling van geskiedkundige ongeregtigheid.
# Rugby: Die Springbokke se reëls-raadgewer, Jaco Peyper, sê die vier skeidsregters wat vir die reeks teen die All Blacks aangestel is, is regverdig. Die voormalige toetsskeidsregter sê Matthew Carley en Karl Dickson van Engeland, Nika Amashukeli van Georgië en Angus Gardner van Australië is almal ervare, was die afgelope jaar baie regverdig en is trots op hulle onpartydigheid. Peyper sê Carley, wat Saterdag se eerste toets op Ellispark hanteer, sal ferm wees en die afbreekpunt hanteer, asook enigiets wat negatief of moedswilig is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-441-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-370-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….