Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA eis minister Cele se verwydering weens die polisie se mislukkings in die onrus van Julie 2021
# Die DA betwis die verslag oor die onluste
# En, sokker: Marokko is gereed vir Bafana in die Afrikabeker se ronde van 16
# Build One South Africa vra die verwydering van die minister van Polisie, Bheki Cele, weens polisie- en intelligensie-mislukkings tydens die onrus van Julie 2021. Die Menseregtekommissie se verslag onthul kommunikasie-onderbrekings, onvoldoende hulpbronne en tegnologiese beperkings, wat gelei het tot ‘n weeklange verbrokkeling van wet en orde in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die party glo Cele se verwydering is noodsaaklik om openbare vertroue en geloofwaardigheid in die polisie te herstel. BOSA stel maatreëls voor om vertroue te herbou, die polisiediens se vermoë uit te brei en die strafregstelsel te laat herleef.
Die DA verwerp intussen die verslag en betwis die gevolgtrekking dat daar geen bewyse is wat dit verbind met oudpresident Jacob Zuma se gevangeneming nie. Die verslag is krities oor die staat se futlose reaksie en bestuur asook die gebrek aan aanspreeklikheid. Die party is steeds besorg oor die doeltreffendheid van die sekerheidsektor en vra ‘n nasionale sekerheidstrategie. Dianne Kohler Barnard van die DA stel voor ondersoeke moet aan ondersoekers toevertrou word wat besliste gevolgtrekkings kan maak:
# ‘n Spesiale hof het Pakistan se voormalige eerste minister en krieketkaptein, Imran Khan, tot 10-jaar tronkstraf gevonnis. Hy word daarvan beskuldig dat hy nie ‘n diplomatieke dokument terugbesorg het nadat hy in 2022 deur ‘n mosie van wantroue uit sy amp onthef is nie. Khan is verlede jaar op ‘n afsonderlike aanklag aangekeer en is steeds in die tronk ten spyte van die vonnis wat toe opgeskort is. Pakistani’s gaan volgende Donderdag na die stembus, maar Khan, wat as die gewildste politikus beskou word, is verbied om deel te neem. Hy is van plan om teen die vonnis te appelleer.
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement is bekommerd oor voortdurende aanvalle en misdadige elemente wat gesondheidsgeriewe in die provinsie teiken. In die jongste voorval moes die Dora Nginza-hospitaal in Gqeberha noodkrag inspan vir operasies nadat die hospitaal se kragkabels gesteel is. Die departement se woordvoerder, Sizwe Kupelo, sê die gemeenskappe ly daaronder wanneer gesondheidsgeriewe verniel of gesondheidswerkers beroof word:
# Sokker: Die laaste twee plekke in die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi is vanaand op die spel wanneer die laaste kragmetings in die ronde van 16 afgehandel word. Mali pak eers vir Burkina Faso, en dan volg die reuse kragmeting tussen Bafana Bafana en Marokko. Die Suid-Afrikaanse span is vol spelers wat die baie suksesvolle Mamelodi Sundowns verteenwoordig. Marokko se afrigter, Walid Reragui, sê dit sal hulle baie selfvertroue gee as hulle kan voortbou op vorige vertonings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-709-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….