Nuus 16:00
BULLETIN 13 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus herbevestig sy verbintenis tot die regering van nasionale eenheid ondanks beleidsverskille
# Soil of Africa is bekommerd oor die ontplooiing van die Weermag om die polisie te help
# En rugby: Die Highlanders se All Black-slot is vir maande uit met ‘n skouerbesering
# Die Vryheidsfront Plus sê hy bly verbind tot die regering van nasionale eenheid ondanks frustrasies oor die regering se buitelandse beleid rakende Venezuela en Iran. Die party is ook gekant teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette en die Onteieningswet, maar sê hul sal voortgaan om deel te wees van die regering om hul beleid te verteenwoordig. Party-leier Corné Mulder sê meningsverskille oor beleide is nie vreemd binne ‘n koalisie nie.
# Die Soil of Africa-beweging is besorg oor president Cyril Ramaphosa se ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om polisie-optrede in Gauteng en die Wes-Kaap te ondersteun om bendegeweld en onwettige mynbou te help bekamp. Die beweging se voorsitter, Bongani Ramontja, sê hoewel hulle die omvang van die krisis erken, verwerp hulle die voortgesette gebruik van militarisering as ‘n plaasvervanger vir omvattende, strukturele ekonomiese hervorming:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het herbevestig godsdiensvryheid word grondwetlik beskerm en sê gemeentelede moet dus beskerm word. Die komitee het met geloofsleiers vergader oor kommer rakende die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe. Die voorsitter, Zweli Mkhize, sê raadpleging sal voortgaan ten einde ‘n wedersydse begrip te bereik. Godsdiensgroepe is gekant teen moontlike staatsregulering, terwyl regstappe voortgaan om die proses te betwis.
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Desember verlede jaar met 2,5-persent op ‘n jaargrondslag gestyg, op die rug van sterk winste in ystererts en mangaan. Platinumgroepmetale en steenkool het dalings aangeteken, en seisoensaangepaste produksie het met 1,2-persent gedaal in vergelyking met November. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê algehele mineraalverkope vir verlede jaar het met 7,3-persent gestyg vergeleke met 2024, wat dui op hoër vraag en stygende verbruiksgoedere-pryse:
# Rugby: Die Highlanders sal sonder hulle All Black-slot, Fabian Holland, wees vir die hele Superrugby-seisoen nadat hy sy skouer ontwrig het tydens ‘n opwarmingswedstryd. Hy sal volgende week ‘n operasie ondergaan en sal waarskynlik eers in Augustus weer gereed wees vir Nieu-Seeland se toer na Suid-Afrika. Hy sal ook die Nasieskampioenskap-wedstryde teen Frankryk, Italië en Ierland misloop. Die Nederlands-gebore Holland is verlede jaar as Wêreldrugby se deurbraakspeler van die jaar aangewys nadat hy twaalf toetse vir die All Blacks gespeel het in sy eerste seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-18-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-970-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….