Nuus 16:00
BULLETIN 12 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Majodina bevestig die watervoorraad in Johannesburg sal teen Sondag bestendig wees
# Betogers in Kaapstad beskuldig die regering van leë beloftes voor die staatsrede
# En Olimpiese Spele: ‘n Mexikaanse ma en seun maak geskiedenis op die Winterspele
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê watertoevoer sal teen Sondag ten volle herstel word na Johannesburgse gemeenskappe. Reservoirs onder die vlak van 40-persent kan nie genoegsaam water pomp na hoogliggende gebiede nie, daarom word waterherverdeling ingestel. Majodina vra inwoners om water te bespaar terwyl verouderende pypleidings vervang en reservoirs opgeknap word. Sy sê steun word versoek van die nasionale Tesourie en privaat vennote om infrastruktuurverbeterings te bespoedig:
# Ondersteuners van Operasie Dudula en Stop Plaasmoorde eis dringende optrede teen plaasmoorde, werkloosheid en swak dienslewering voor vanaand se staatsrede. ‘n Klein groepie ondersteuners het naby die Kaapstadse stadsaal vergader. Hulle beweer president Cyril Ramaphosa maak reeds jare beloftes wat nie werklike verandering teweegbring nie. Hulle is bekommerd oor ongeplaasde leerders, hoë werkloosheid en sukkelende township-ekonomieë. Die groep sê plaasmoorde bly ‘n ernstige bron van kommer en vra strenger ingryping.
Steeds in die Moederstad:
# Die DA in die Wes-Kaap het kommer uitgespreek oor moontlike passasiersontwrigtings tydens opgraderings van nege-miljard-rand op die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Die projek sluit in ‘n nuwe binnelandse aankomssaal, uitbreiding van die internasionale saal, sekerheids-opgraderings en ‘n nuwe hoofaanloopbaan. Bouwerk begin volgende maand en sal tot 2029 voortduur. Noko Masipa van die DA sê noukeurige beplanning en duidelike kommunikasie sal noodsaaklik wees om ontwrigtings te bestuur en passasiersveiligheid te verseker:
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê hulle kan nou fokus op gepaste elektrisiteitsprysbepaling om sleutel- en kwesbare sektore te ondersteun. Dit volg nadat die energiereguleerder, NERSA, Eskom se aansoek goedgekeur het vir ‘n verlaging van 35-persent in kragtariewe vir die ferrochroomprodusente Samancor Chrome en Glencore-Merafe. Marokane het op die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê hul ondersoek volhoubare prysbepalings om werksgeleenthede te beskerm en mededingendheid te bevorder.
# Olimpiese Spele: Sarah Schleper en Lasse Gaxiola van Mexiko maak hierdie naweek geskiedenis in Noord-Italië wanneer hulle die eerste ma en seun word wat aan dieselfde Winterspele deelneem. Die 46-jarige Schleper sal aan die Alpynse ski deelneem en die 18-jarige Gaxiola aan die reuse-slalom. Hulle sal mekaar egter nie kan ondersteun nie, aangesien Gaxiola in Bormio deelneem en Schleper in Cortina. Schleper sal ook die oudste vroulike Alpynse skiër op ‘n Spele word, en die eerste wat aan sewe Spele deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-86-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-60-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….