Nuus 16:00
BULLETIN 11 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thoko Didiza beklemtoon drie dekades van demokrasie terwyl die Parlement vir die staatsrede voorberei
# Die VF Plus veroordeel die skielike verwydering van ‘n veearts uit die ministeriële taakspan
# En die Wes-Kaapse regering stel die Skolesportplan bekend, gerugsteun deur ‘n belegging van 130-miljoen-rand
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die Grondwet is vanjaar 30-jaar oud en die land vier sy demokratiese prestasies. Sy beklemtoon die Grondwet se rol in die bevordering van menseregte, gelykheid en regeringsverantwoordbaarheid. Didiza sê die Parlement is voorbereid op môre se staatsrede. Sy vra lede om in die debat op die staatsrede te besin oor demokratiese vordering, grondwetlike waardes en beter dienslewering aan alle Suid-Afrikaners:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het onverwags die vooraanstaande veearts Danie Odendaal uit die ministeriële taakspan oor staatsbeheerde siektes verwyder. Die Vryheidsfront Plus sê Odendaal is ‘n kenner van bek-en-klouseer, en is na bewering afgedank omdat hy nie ‘n verklaring van onpartydigheid en vertroulikheid onderteken het nie. Woordvoerder Wynand Boshoff sê Odendaal se verwydering wek kommer oor die motief en kan pogings belemmer om die siekte te bestry:
# Standard Bank het die gefaseerde bekendstelling van slim-identiteitskaart-aansoek- en hernuwingsdienste in uitgesoekte takke bevestig, wat in vennootskap met die Departement van Binnelandse Sake aangebied word. Die diens sal aanvanklik in Rosebank, die Maponya-winkelsentrum en Westgate in Gauteng beskikbaar wees. Kliënte sal tydens die bekendstelling slegs Binnelandse Sake se standaard-fooi van 140-rand betaal, sonder enige bykomende koste. Kliënte kan by dieselfde tak aansoek doen, betaal en hul slim-ID’s afhaal. Die diens sal teen 2029 uitbrei na meer as een-duisend takke landwyd.
Nuus uit die buiteland:
# Die aantal mense wat gesterf het nadat ‘n aanvaller losgebrand het op ‘n hoërskool in Wes-Kanada, het tot tien gestyg, insluitend die vermeende aanvaller. Die Koninklike Kanadese Berede Polisie sê ses mense is doodgeskiet in ‘n hoërskool in Tumbler Ridge, Brits-Colombië, en twee in ‘n nabygeleë woning. Nog ‘n persoon het op pad na die hospitaal gesterf en die aanvaller het volgens berigte selfdood gepleeg. Dit word beskryf as een van die land se dodelikste skietvoorvalle in die onlangse geskiedenis.
# Nou sportnuus: Die Wes-Kaapse regering het sy Skoolsportstrategie bekend gemaak wat gerugsteun word deur ‘n toewysing van 130-miljoen-rand oor drie jaar. Dis deel van ‘n gekoördineerde poging om skolesport te versterk as ‘n platform vir jeugontwikkeling, ‘n gesonde leefstyl en die identifisering en vorming van toekomstige sportsterre. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê dis ‘n belangrike mylpaal in die versterking van skolesport as kanaal vir leerling-ontwikkeling en sosiale samehorigheid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-329-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-93-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….