Nuus 16:00
BULLETIN 6 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is stil oor bespiegelings rondom Geordin Hill-Lewis se leierskap
# Minister Macpherson oorhandig ‘n opgeknapte koepel aan die speaker, Thoko Didiza
# En rugby: Engeland is die gunsteling in die Sesnasies-kragmeting met Wallis
# Die DA se federale leierskap wil nie bespiegel of Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, in April vir John Steenhuisen sal opvolg as partyleier nie. Hill-Lewis het bevestig partylede het hom genader, maar sê hy sal later die maand sy besluit aankondig, en bygevoeg hy is steeds verbind tot ‘n tweede burgemeesterstermyn. Die DA stuur sy plaaslike verkiesingsveldtog van stapel met agt burgemeesterskandidate. Die federale voorsitter, Ivan Meyer, het Hill-Lewis se leierskap geprys en gesê hy sal mettertyd namens homself praat.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het amptelik die opgeknapte Nieuwmeesterkoepel in Kaapstad oorhandig aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza. Dit sal dien as ‘n tydelike parlementêre kamer terwyl die Nasionale Vergadering herbou word ná die brand in 2022. Didiza sê dis belangrik om parlementêre bedrywighede te handhaaf en die wetgewende erfenis te behou. MacPherson sê die opknapping verseker werkende, veilige geriewe:
# Leerdervervoeroperateurs in Potchefstroom, Noordwes, is woedend na ‘n wetstoepassings-blitsoperasie, maar die minister van Vervoer, Barbara Creecy, waarsku dat onwettige voertuie geskut sal word, ongeag die omstandighede. Sy het bevestig dat byna 300 voertuie landwyd geskut is as deel van voortgesette wetstoepassingsingrypings wat daarop gemik is om die sektor te reguleer en veilige, wettige vervoer vir leerders te verseker:
# Rugby: Engeland is die gunsteling in môre se eersteronde-Sesnasies-botsing met Wallis. Engeland is derde op die wêreldranglys en het elf agtereenvolgende oorwinnings agter die blad. Wallis sukkel daarenteen en het 21 van hul laaste 23 toetse verloor. Engeland het in die verlede wedstryde op Twickenham oorheers, en Wallis kon sedert 2012 nog nie ‘n Sesnasies-oorwinning daar behaal nie. Wallis het ‘n nuwe verdedigingsafrigter, Steve Tandy, en die span verwelkom ook vir Louis Rees-Zammit terug as heelagter. Die span is egter sonder sy kaptein, Jac Morgan, weens ‘n besering.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-308-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-879-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se wynerfenis van 367-jaar en die begin van die nuwe druiwe-oesseisoen is tydens die jaarlikse Wynoes-gedenkgeleentheid op Groot Constantia in Kaapstad gevier. Vyf bedryfsleiers is vereer: die Retief-familie, Denzel Swarts, Pieter Ferreira, Charl Theron en Wilfred Fortuin. Aanwesiges het ‘n glasie geklink op die vars oes wat die lewenskragtigheid van Suid-Afrika se wingerde weerspieël. Organiseerders en vennote, insluitend Standard Bank en die Wes-Kaapse regering, het die sektor se vernuwing, volhoubaarheid, inklusiwiteit en bydrae tot die ekonomie en kulturele identiteit geprys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….