Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee besluit om Zuma uit die party te skors
# Die DA veroordeel die noodlottige skietvoorval waarin ‘n SANW-lid op ‘n polisiebeampte in Limpopo losbrand
# En, tennis: Die Australiese Ope stel ‘n nuwe Grand Slam-bywoningsrekord op
# Die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC het besluit om oudpresident Jacob Zuma uit die party te skors. Dis dadelik van krag. Volgens News24 het die NUK eenstemmigheid bereik tydens ‘n laatnag-vergadering. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula sal Zuma na verwagting skriftelik hieroor inlig. Zuma se aankondiging dat hy nie vir die party veldtog sal voer of vir die ANC sal stem nie, volg op die stigting van die nuwe uMkhonto weSizwe-party. Die NUK het op skorsing besluit eerder as hom uit te skop, omdat laasgenoemde op ‘n uitgerekte dissiplinêre proses sou uitloop. Zuma het 48 uur om op die bewerings teen hom te reageer.
# Die DA in Limpopo verwelkom verlede week se inhegtenisneming van ʼn polisiebeampte wat verbind word met die moord op ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag naby die polisiestasie op Hoedspruit. Die beskuldigde het die soldaat na bewering na ʼn meningsverskil in ʼn taverne geskiet, nadat niemand by die stasie wou help nie. Katlego Suzan Phala van die DA sê ondanks die erkenning van die minister van Polisie, Bheki Cele, dat vyf-duisend-489 polisiebeamptes sedert 2019 in hegtenis geneem is, is drie-duisend-981 steeds in diens ondanks aanklagte van moord en korrupsie:
# Die Stad Johannesburg waarsku teen moontlike diensleweringsontwrigtings in Eldoradopark nadat betogers gister ‘n brandweerspan aangeval het. Drie brandbestryders is beseer, en hulle brandweerwa is beskadig. Hulle het reageer op ‘n aangemelde brand in uitbreiding drie, toe inwoners hulle met ‘n stortvloed klippe bestook het tydens ‘n diensleweringsbetoging. Die woordvoerder, Robert Mulaudzi, veroordeel die geweld teen die mense wat lewens porbeer red:
# Die Departement van Paaie en Vervoer in Gauteng ervaar ‘n krisis met misdadigers wat meer as 30-miljoen-rand se skade aan verkeersligte langs provinsiale roetes aangerig het. Die departement waarsku teen die kommerwekkende toename in opsetlike beskadiging, wat die afgelope jaar meer as 400 kruisings geraak het. Hulle beplan om ‘n paar aangewese kruisings te omskep in vierrigtingstoppe. Hoëgebruik-kruisings, soos Hendrik Potgieter en Christiaan de Wet in Johannesburg, dra herhaalde beskadigingsonkoste van meer as 500-duisend-rand. Die departement werk saam met wetstoepassers en dring aan op openbare samewerking om hierdie plaag hok te slaan.
# Tennis: Die Australiese Ope het vanjaar weer die bywoningsrekord vir Grand Slam-toernooie verpletter toe meer as ‘n miljoen toeskouers na Melbourne-park gestroom het. Dit oortref verlede jaar se rekord van net meer as 902-duisend. Dit het ‘n inspuiting van meer as 7,2-miljard-rand vir die plaaslike ekonomie meegebring. Die minister van Toerisme en Sport, Steve Dimopoulos, het Tennis Australië en die Melbourne- en Olimpiese Park-trust gelukgewens met die aanbieding van die grootste wêreldbyeenkoms in Januarie. Aryna Sabalenka van Belarus en die Italianer, Jannik Sinner, is as die kampioene gekroon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-276-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….