Nuus 16:00
BULLETIN 23 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, keer terug ná sy skorsing
# Israeli’s vrees ‘n kernooreenkoms tussen Amerika en Saoedi-Arabië kan ‘n wapenwedloop in die Midde-Ooste aanwakker
# En rugby: Die All Black-legende Sean Fitzpatrick sê ‘n oorwinning oor die Bokke sal die kersie op die koek wees
# Die Stad Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, is terug in sy pos na ‘n voorsorgskorsing van drie maande en ‘n finale skriftelike waarskuwing. Hy is geskors nadat hy voor die Madlanga-kommissie daarvan beskuldig is dat hy probeer het om ‘n sekerheids-tender van miljarde rand van die Tshwane Metropolisiedepartement te beïnvloed. Hy het glo ook sensitiewe tenderdokumente met buite-partye gedeel en versuim om sakebelange te verklaar terwyl hy voorsitter van die tender-beoordelingskomitee was. Die stadsraad het besluit om die bewerings teen Mnisi tot minder ernstig te verklaar.
# Die DA in Gauteng beskuldig premier Panyaza Lesufi dat hy korrupte amptenare beskerm deur te weier om leefstyloudits van die provinsiale regering se departementshoofde, direkteur-generaals en instellings se uitvoerende hoofde openbaar te maak. Die party sê dieselfde het gebeur toe hy aanvanklik geweier het om 177 forensiese verslae bekend te maak. Die DA beweer Lesufi het verslae vrygestel waaruit belangrike gedeeltes weggelaat is, wat die publiek ontneem van inligting oor hoe geld gesteel is wat hul lewens moes verbeter.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is uiters bekommerd oor die styging in Suid-Afrika se verbruikersprysinflasie tot vyf-persent. Die vereniging sê ‘n daling in koopkrag veroorsaak dat baie werknemers sukkel om basiese huishoudelike uitgawes te betaal, skuld te delg en vir hul gesinne te sorg. Woordvoerder Claude Naicker sê die jongste inflasiesyfers sal die krisis vererger:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Ooreenkoms tussen Amerika en Saoedi-Arabië wat die land toelaat om kernreaktors met Amerikaanse tegnologie te bou en uraan te verryk, het kommer in Israel aangevuur oor ‘n wapenwedloop in die Midde-Ooste. Die ooreenkoms moet nog deur die Amerikaanse Kongres goedgekeur word. Die voormalige Israelse eerste minister Naftali Bennett, wat die 27ste Oktober vir Benjamin Netanyahu wil ontsetel, sê die ooreenkoms, wat bereik is sonder Israel se inspraak, is ‘n ernstige strategiese mislukking wat die veiligheid van die Joodse staat in gevaar stel.
# Rugby: Die voormalige All Black-kaptein Sean Fitzpatrick sê ‘n reeksoorwinning oor die Springbokke in Suid-Afrika sal die kersie op die koek wees, en die perfekte wegspringplek vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Nieu-Seeland sal tydens die Greatest Rivalry-toer teen die vier Suid-Afrikaanse Verenigde Rugby-kampioenskapspanne speel, asook vier toetse teen die Bokke. Fitzpatrick sê die uitdaging vir die nuwe All Black-afrigter, Dave Rennie, is om strawwe kompetisie vir die Bokke te skep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-75-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….