Nuus 16:00
BULLETIN 4 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump bekragtig AGOA en Suid-Afrika is voorlopig steeds deel daarvan
# Oekraïne en Rusland begin met die tweede ronde vredesgesprekke in Abu Dhabi
# En motorsport: Red Bull se voormalige hoof Christian Horner sê hy sal net vir die regte geleentheid na F1 terugkeer
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n verlenging van die Wet op Afrika-groei- en Geleenthede tot 31 Desember bekragtig, terugwerkend vanaf 30 September verlede jaar toe dit verval het. Suid-Afrika is steeds betrokke ondanks gespanne verhoudings tussen die lande. Die voorkeurhandelsprogram bied belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir begunstigde lande in Afrika suid van die Sahara en dek meer as een-duisend-800 produkte. Die Huis van Verteenwoordigers het verlede maand ingestem om die wet vir drie jaar te verleng, maar die Senaat het dit tot een jaar verkort.
Die ANC-Jeugliga vra intussen dat uitvoerkwotas onmiddellik ingestel word, sodat minstens 70-persent van alle rou minerale plaaslik wins kan maak en slegs 30-persent uitgevoer word. Die regering voer tans gesprekke rakende ‘n uitvoerbelasting om uitvoere van onverwerkte minerale te beperk. Die liga se woordvoerder, Sindiswa Scheepers, sê die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, moet werk aan die kwotas om die hoeveelheid rou minerale wat uitgevoer kan word, te beperk:
# Die Landdroshof in Pretoria het die terrorismesaak teen die Zimbabwiese opposisiefiguur, Job Sikhala, en sy medebeskuldigde, sy oom, Alexander Thema, tot 4 Mei uitgestel. Aanklaers sê hulle wag op belangrike DNS- en vingerafdruk-uitslae. Die twee staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde besit van plofstof tydens ‘n besoek aan Pretoria in November. Albei is uit op borgtog van tien-duisend-rand. Sikhala se verdedigingspan ontken alle bewerings. Die ondersoek duur voort.
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïense en Russiese onderhandelaars het die tweede ronde Amerikaans-bemiddelde gesprekke in Abu Dhabi begin om die grootste konflik in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog te probeer beëindig. Die tweedaagse vergadering volg nadat die president van Oekraïne, Volodimir Zelensky, gesê het Rusland het verlede week ‘n Amerikaans-gesteunde energie-wapenstilstand uitgebuit om ammunisie op te gaar en Oekraïne gister met talle ballistiese missiele aangeval. ‘n Brose kwessie is Moskou se eise dat Kiëf grond wat hy steeds beheer moet prysgee, en die toekoms van die Zaporizhzhia-kernkragaanleg in ‘n Russies-besette gebied.
# Motorsport: Red Bull se voormalige uitvoerende hoof, Christian Horner, is nie haastig om na Formule Een terug te keer nie, en sal dit slegs vir iets werklik opwindends doen. Die 52-jarige is in Julie verlede jaar as spanhoof afgedank en het in September amptelik vertrek. Horner is deel van ‘n groep beleggers wat belangstel in ‘n belang in Alpine. Hy sê hy het gesprekke gevoer met byna elke F1-span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-108-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-44-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….