Nuus 16:00
BULLETIN 3 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen gaan ‘n nuuskonferensie hou te midde van bespiegelings oor die DA se leierskap
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon behuising is ‘n noodsaaklike basiese mensereg
# En krieket: Bavuma glo De Kock hou die sleutel tot die Proteas se sukses in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Berigte neem toe oor die DA-leier, John Steenhuisen, wat nie weer verkiesbaar gaan wees op die party se federale kongres in April nie. Hy het bevestig hy gaan môre ‘n nuuskonferensie hou in Durban en vra die publiek om intussen bespiegelings te vermy. Die verwagte aankondiging volg op toenemende interne spanning, insluitend ‘n openbare meningsverskil met die voormalige lid en minister, Dion George. Indien Steenhuisen opsystaan, kan dit volgens berigte die weg baan vir Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, om hom vir die party se leierskap beskikbaar te stel.
# President Cyril Ramaphosa sê voldoende behuising is ‘n basiese mensereg, noodsaaklik vir waardigheid, veiligheid en geleenthede. Hy het tydens die Vernuwende Boutegnologieë-beraad opgemerk meer as vyf-miljoen behuisingsgeleenthede is sedert 1994 verskaf, maar 2,5-miljoen gesinne is steeds op ‘n waglys. Hy het uitdagings uitgelig, insluitend beperkte grond, stygende koste en projekvertragings, wat ‘n prysverhoging vir die middelklas meebring. Ramaphosa sê vir armes vererger dit dakloosheid en lei tot meer informele nedersettings:
# Forum for South Africa verwelkom die besluit om Israel se saakgelastigde in Suid-Afrika, Ariel Seidman, tot persona non grata te verklaar. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê sy optrede was onvanpas, onder meer sy gebruik van sosiale media om Ramaphosa aan te val. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Israel ondermyn die land se soewereiniteit, en dit kan nie geduld word nie:
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom CapeNature se herstel- en rehabilitasieprogram wat ingestel is ná die veldbrande wat oor die feestyd deur die Cederberg-wildernisgebied gewoed het. Die program behels tans die beoordeling en herstel van staproetes en infrastruktuur, erosiebeheer, bestuur van indringerspesies en langtermyn- ekologiese monitering. Dave Bryant van die DA sê hierdie ingrypings is noodsaaklik om seker te maak die veld herstel op natuurlike wyse:
# Krieket: Kaptain Temba Bavuma glo met Quinton de Kock in topvorm gaan die aanvangskolwer die sleutelspeler wees in die Proteas se veldtog op die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die 33-jarige De Kock, wat die sesde keer aan die toernooi sal deelneem, het verlede week weer opnuut gewys hy is honger vir sukses met sy uitstekende loopbaan-beste vertoning van 115 lopies van 49 balle in die tweede T20 teen die Wes-Indiese Eilande in Centurion. Die Proteas speel Maandag hul eerste groepwedstryd teen Kanada.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-178-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-898-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….