Nuus 16:00
BULLETIN 30 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie is tot Dinsdag uitgestel ná ‘n versoek om getuies voor te berei
# Die Nkabinde-ondersoek sal met ‘n nuwe getuie hervat ná ‘n presidensiële verlenging
# En rugby: Die Blitsbokke speel teen Fidji, Brittanje en Spanje in die Singapoerse Sewes se groepsafdeling
# Die Madlanga-kommissie se verhore is tot Dinsdag uitgestel ná ‘n dringende aansoek deur getuie-regsverteenwoordiger Hartley Ngoato om meer tyd om onlangse bewyse te hersien. Getuienisleier Matthew Chaskalson het beswaar gemaak en gesê daar is genoeg tyd gegee. Die voorsitter, oudregter Mbuyiseli Madlanga, het ‘n korter tydperk toegestaan as die sewe-dae wat versoek is, en verwys na regverdigheid en die noodsaaklikheid om voldoende tyd toe te laat om dokumente te hersien:
# President Cyril Ramaphosa het die voltooiingsdatum van die Nkabinde-ondersoek tot 30 Junie verleng. Die ondersoek, wat geskep is om te bepaal of advokaat Andrew Chauke geskik is vir sy posisie as direkteur van Openbare Vervolgings in Suid-Gauteng, sou vandag verslag doen. Tiyisela Mpuzana van die kommissie sê die verlenging bied tyd vir volledige getuienis en voltooiing van die verslag. Verhore hervat Woensdag, met advokaat Moipone Noko wat sal getuig.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig die Facebook-moordenaar en -verkragter, Thabo Bester, is oorgeplaas na die eBongweni-super-maksimum-gevangenis in Kokstad, KwaZulu-Natal. Woordvoerder Singabakho Nxumalo sê dit volg ná roetine sekerheids-bepalings. Bester sal steeds sorg ontvang en behou toegang tot regsverteenwoordiging, kommunikasie met sy gesin en hofprosesse. Sy regsverteenwoordiger, Moafrika wa Maila, beplan om aansoek te doen dat hy moet terugkeer na Kgosi Mampuru in Pretoria.
# Forum For South Africa is versigtig optimisties oor die Spesiale Ondersoekeenheid se terugvordering van 1,7-miljard-rand vir die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die onbestede 1,7-miljard-rand tussen 2016 en 2021 met duisende studente wat uitgesluit is weens befondsingstekorte, is ‘n nasionale skande:
# Rugby: Suid-Afrika, wat bo aan die punteleer is, kom in Groep A teen Fidji, Brittanje en Spanje te staan in die wêreldreeks-sewestoernooi in Singapoer. Die Blitsbokke het in November vyfde gekom in die eerste toernooi van die seisoen in Dubai voor hulle ‘n week later in Kaapstad tot kampioen gekroon is. Fidji is tans tweede op die punteleer, gevolg deur Nieu-Seeland, Frankryk en Australië. Suid-Afrika het verskeie sleutelspelers verloor weens beserings en afrigter Philip Snyman sê dis belangrik om jeug en ervaring te balanseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-543-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-121-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….